HESSEQUA NUUS - By die eerste gesprek in Die Burger se Praat Saam-diskoersreeks op vanjaar se KKNK het die gesprek grootliks gegaan oor hoe mens 'n dorp van vervalling kan red.
Suid-Kaap Forum het by Grant Riddels, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, gaan inloer om te hoor wat hulle doen om die tien dorpe in dié streek onder DA-beheer op 'n gesonde voet te hou.
Riddels sê hy moet saamstem met baie Suid-Afrikaners wat reken dat ná 1994 veral kleiner plattelandse dorpe agteruitgegaan het en dienslewerig by baie in duie gestort het.
"Vóór 1994 was die infrastruktuur in goeie werkende toestand, paaie sonder slaggate en het Eskom betroubare krag voorsien. Maar ná 1994 het dinge stelselmatig uitmekaar begin val. Baie kundigheid is verloor met ervare en goed gekwalifiseerde mense wat of vroeër afgetree het of pakette aanvaar het. Basiese instandhouding het verder agteruitgegaan.
"Dis welbekend dat kaderontplooiing en regstellende aksie, waarin mense eerder vanweë hul politieke verbintenisse as hul vaardighede aangestel is, stede en dorpe nou in duie laat stort."
Riddels sê die breë gemeenskap van 'n dorp, insluitend die plaaslike regering, moet hul rolle verstaan.
"Ek gebruik altyd die voorbeeld van 'n fietswiel met sy verskillende onderdele soos die fietsband, speke, as en koeëllaars wat moet saamwerk om die wiel te laat draai. Dis 'n deelnemende proses en elke inwoner moet bereid wees om eienaarskap te neem en hand in die water te steek."
Hy verwys na die Melkhoutsfonteinpad waar inwoners almal elke aand die sypaadjies voor die hul huise skoonvee sodat die munisipaliteit nie nodig het om dit te doen nie.
"Maar sommige mense het hul trots verloor en staan net bakhand om te ontvang. Daarom is dit belangrik dat munisipaliteite, sakelui en inwoners moet hande vat en eienaarskap van hul dorpe neem om dié agteruitgang te keer."
"Ons is hier om die mense wat ons verkies het se lewens te verbeter. Dienslewering is ons hooftaak en dis waarop ons konsentreer."
Riddels sê stabiliteit binne 'n munisipaliteit is ook uiters belangrik, want daarsonder sal belangrike besluite nie geneem word nie en sal dienslewering agteruitgaan.
"Sedert 2016 het ons 'n bekwame, sterk en 'n verenigde munisipaliteit in Hessequa waar die leiers nie deur binnegevegte om mag en toegang tot hulpbronne verteer word nie en korrupsie nie geduld word nie."
Hy sê die munisipaliteit is sterk daarop ingestel om goeie verhoudinge met plaaslike sakekamers, gemeenskapsorganisasies en verenigings op te bou.
Ons hou ook ons gemeenskappe ingelig oor nuwe ontwikkelinge en in dié opsig besoek ons gereeld wykskomitees om nuwe idees met hulle te toets en te hoor of hulle inkoop by dié planne."
Riddels beklemtoon dit ook dat daar goeie samewerking tussen al die raadslede is. "Dis een van die redes waarom Hessequa as een van die topmunisipaliteite in SA beskou word. Elke raadslid het dit ten doel om diens te lewer."
Vervolgens wou Suid-Kaap Forum by Riddels weet watter rol vaardigheid speel in die heropbou van dorpe.
"Vaardigheid is krities binne veral 'n munisipaliteit, hoewel in groot dele van SA dit wil voorkom of vaardighede nie hoog op die prioriteitslys van baie plaaslike munisipaliteite is nie. Dan is daar boonop nog mense met top-vaardighede wat afgetree het. Hul kennis en ervaring is wel beskikbaar, maar dit word nie altyd ingespan nie.
"Ons het 'n mentorskapprogram in Hessequa waar ons byvoorbeeld afgetrede ingenieurs betrek om hul kennis en ervaring met die werkers te kom deel. Hierdie mense help graag en hulle doen dit boonop sonder enige vergoeding. Baie van dié ervare afgetredenes dien ook in belastingbetalersverenigings, sakekamers en belangeforums waar hulle belangrike insette lewer."
Nog 'n rede waarom Hessequa se huis in orde is en dienslewering nie agterweë bly nie, sê Riddels, is "omdat die munisipaliteit goeie strukture in plek het. Elkeen weet wat hy moet doen. As ek môre hier uitstap sal die munisipaliteit steeds normaal funksioneer. Dis omdat ons die beste moontlike persoon vir poste aanstel.
"Raadslede meng ook nie in met die munisipaliteit se administrasie, tenderprosedures of nuwe aanstellings nie."
Hulle bepaal beleid en maak seker dat munisipale amptenare dit uitvoer.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'