Update
RIVERSDAL NUUS - Marlé van Wyk het op die ouderdom van 17 minder as 10% sig in albei haar oë as gevolg van Stargardt se siekte.
"Na meer as 10 jaar met die gesukkel om te sien hoe die mense regtig lyk vir wie ek lief is, het ons uiteindelik 'n wonderwerk beleef." So het die sprankelende tiener op haar Facebook-profiel geskryf nadat sy vir die eerste keer met die hulp van 'n eSight-bril weer kon sien.
Sy is die eerste persoon in Suid-Afrika wat dié bril gebruik. Die besondere tegnologie daarvan bring voorwerpe nader en kan ook dit waarna sy wil kyk, vergroot. Dit laat haar toe om baie klein skrif te lees en selfs op haar selfoon te kan sien. Sy kan selfs 'n gedeelte in 'n boek of tydskrif wat sy wil lees afneem, dit vergroot en tot die kleinste skrif wat sy nooit kon lees nie, met gemak sien.
Hoewel sy van 'n baie jong ouderdom met haar sig gesukkel het, is sy eers in 2010 met dié siekte gediagnoseer. Haar jonger suster is ook daarmee gediagnoseer.
Dit is 'n oorerflike afwyking wat kinders se oë aantas en hul geleidelik hul sig laat verloor. Hulle behou wel 'n mate van kantvisie (peripheral vision). In Marlé se geval kan sy steeds vorms uitmaak en tussen lig en donker onderskei.
Omdat sy so positief is en bykans heeltyd glimlag, sou mens nooit kon raai dat dié mooi jong meisie enigsins 'n probleem met haar oë het nie. Sy het vertel: "Ek het nog altyd 'n kolletjie gesien, maak nie saak waarna ek gekyk het nie. Ek was agt jaar oud toe ek een van my maatjies gevra het of sy ook 'n kolletjie kan sien. Sy kon natuurlik nie en dit is toe dat ek besef het, almal sien nie soos ek nie."
Sy skryf verder op haar profiel: "My pa het jare spandeer op soek na 'n oplossing om sy twee dogters se lewens makliker te maak. Uiteindelik het hy die wonderlike tegnologie wat ons Hemelse Vader die mens gegee het om uit te dink, opgespoor."
'n Nuwe wêreld het vir Marlé van Wyk oopgegaan nadat sy die eSight-bril begin gebruik het. Foto: San-Marié Cronjé
Marlé is fanaties oor sport en ten spyte van die siekte, het sy nooit opgehou om daaraan deel te neem nie. Sy is een van die toptien-netbalspelers in haar skool.
"Hoewel ek nie die bal kan sien nie, hoor ek 90 % gedurende die wedstryd waar dit is. Selfs met gimnastiek maak ek op my gehoor staat oor waar die apparaat is."
Haar hoof sportsoort is atletiek. Sy hardloop die 100, 200 en 400 m en het al aan die nasionale kampioenskappe vir gestremdes deelgeneem waar sy goud gewen het. In die swembad is sy net so gemaklik en het die Suidwestelike Distrikte-span in tweekamp draf en swem behaal. Sy het ook goud vir swem by die nasionale kampioenskap verwerf.
Met behulp van 'n assistent kon sy in 'n hoofstroomskool haar skoolloopbaan voortsit. Haar vriendekring weet presies wat sy kán en nie kan sien nie. Haar maats het haar nooit gespot nie. "Almal was al gewoond daaraan dat ek opstaan in die klas en teen die bord gaan staan om te kan sien wat die juffrou geskryf het."
In gr. 4 is sy aangeraai om 'n sonbril skool toe te dra omdat die son haar oë verder kan beskadig. 'n Spesiale oomblik van daardie jaar wat sy goed kan onthou, is toe een van haar vriendinne se ma 'n verrassing vir haar gereël het.
"Die tannie het die eerste keer wat ek 'n sonbril skool toe moes dra, gereël dat almal in my klas ook een dra. Ek het so welkom gevoel en was baie verras."
Die bril is baie swaar en moet om haar kop vasgemaak word om sodoende in posisie te bly.
Nadat sy met Stargardt se siekte ('n toestand wat die sentrale visie en die vermoë om detail te sien beïnvloed) gediagnoseer is, het sy gedink dat haar lewe soos normaal sou voortgaan. Vyf jaar gelede, in 2013 het die besef dat sy nooit sal kan bestuur nie, haar soos yswater in die gesig getref.
"My grootse droom was nog altyd net om onafhanklik te kan wees. Ek het heeltyd vertel watter soort motor ek eendag wil bestuur en waar ek oral heen sal gaan – en skielik het daardie droom aan skerwe gespat en het ek vir die eerste keer oor my toestand gehuil. Mense besef nie watter groot voorreg dit is om normaal te kan sien nie; hulle aanvaar dit as vanselfsprekend en dit het my laat besef hoe selfsugtig sommige mense kan wees met dit wat hulle wel kan doen."
'n Nuwe wêreld het vir Marlé oopgegaan nadat sy die bril gekry het. Ten spyte daarvan dat sy, selfs mét die eSight-bril nooit self sal kan bestuur nie, het dit haar lewe onherroeplik verander.
Sy het in trane uitgebars nadat sy haar oupa se gesig en haar pa se oogkleur vir die eerste maal kon sien. Vir die eerste keer het haar ma se glimlag haar hart verwarm en sy was bly om te sien dat haar ma nog net so mooi soos altyd is.
Marlé en haar familie beskou hierdie deurbraak inderdaad as 'n wonderwerk.
Lees 'n vorige artikel: Bril 'n eerste vir SA
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'