WITSAND NUUS - Port Beaufort is byna 90 jaar ouer as die Witsand. Ten spyte van hul uiteenlopende, dog wonderlik-romantiese ontstaansgeskiedenis, het hulle nou tot een dorpie saamgegroei.
Port Beaufort, die histories-belangrike hawedorpie wat die Overbergse ekonomiese potensiaal in die 19de eeu ontsluit en 'n reuse-impak op die streek en sy bewoners gehad het, en Witsand, die vissersgemeenskappie wat 'n vakansieoord geword het.
"Die entrepreneurskap van die Barry-familie en die ontwaking van Port Beaufort is 'n fassinerende verhaal. In die boekie van A.P. Buirski Die Barrys, die Overberg en die hawe van Port Beaufort is vanjaar vir ons feesjaar in beide tale gedruk.
Daarin gee Buirski sy aangrypende weergawe van hoe die Barrys Port Beaufort gebruik het om welvaart na die hele Overberg te bring."
Die geskiedenis begin waarskynlik in 1817 toe lord Charles Somerset die Breërivier laat opmeet en verneem het dit is geskik vir 'n hawe. Hy noem die plek Port Beaufort, na sy vader, die hertog van Beaufort.
In 1831 ontvang kaptein Benjamin Moodie die aangrensende plaas Westfield, waarvan 'n gedeelte later Witsand sou word.
Port Beaufort se geskiedenis loop daarna hand aan hand met die opkoms van die Barry-familie se sakeryk wat gebaseer is op die uitgebreide handelsnetwerk van hul firma Barry & Neefs en wat in terme van ekonomiese dominansie sy gelyke in die Overberg nooit weer gesien het nie.
In die middel-1800's het Port Beaufort 'n reuse bydrae gemaak tot die landbou, handel en ekonomie in die streek toe handelsware uit die Kaap vanaf die hawe na al die dorpies in die streek weggebring is en alle landbouprodukte, waarvan wol die belangrikste kommoditeit was, terug Kaap toe verskeep is.
Voor Port Beaufort tot stand gekom het, moes goedere moeisaam met ossewaens langs primitiewe paaie en passe die hoë berge oor Kaap toe en terug gekarwei word.
Die nuwe hawe het 'n groot wending gebring want bestaansboere het skielik maklike toegang tot die Kaapse markte gehad wat vooruitgang en welvaart na die Overberg gebring het.
Port Beaufort is in sy bloeityd selfs met 'n hawe soos Algoabaai vergelyk. Tog was dit nie bestem om 'n permanente poort vir handelsvaartuie te word wat die Overberg kon bedien nie.
Met die dood van Joseph Barry, stigter van Barry & Neefs, en die stranding van hul belangrikste handelsvaartuig, die klein stoomboot Kadie, beide in 1865, is Port Beaufort se lot verseël.
Hoewel beperkte handel steeds 'n ruk voortgegaan het, het niemand met die nodige ondernemingsgees en kapitaal weer na vore getree wat die kushandel en hawe kon red nie.
So het Barry se droom van 'n groot rivierhawe, wat so byna tot verwesenliking gekom het, in die vergetelheid verdwyn. (Dr. Jan H. Langenhoven).
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'