RIVERSDAL NUUS - Plastiek vorm deel van ons daaglikse bestaan, maar tog is dit een van die grootste bedreigings vir die omgewing.
Dink maar aan plastiekbakke waarin jy kos bêre, skottels en emmers, tuinstoele en tafels, speelgoed, noem maar op. Buiten verpakking word dit ook gebruik in die vervaardiging van meubels, huishoudelike toerusting, die bou- en konstruksiebedryf, die elektriese en elektroniese bedryf, voertuigvervaardiging van landbou.
Die feit dat plastiek ontwerp is om onvernietigbaar te wees is juis die probleem. Omdat dit relatief goedkoop is, word dit weggegooi.
Dis waar die knoop lê: die inkopiesak, water- en koeldrankbottel, strooitjies en eetgerei van plastiek beland in die veld - waar vee dit eet en daarvan vrek - en in die see, waar seediere dit vreet... en daarvan vrek.
Navorsing toon dat jaarliks nog agt miljoen metrieke ton plastiek in die see gestort word buiten die 150 miljoen metrieke ton wat reeds in die wêreld se oseane is.
Plastiek wat op 'n vullishoop beland, vergaan nie. Indien dit verbrand word, besoedel dit die lug en dra by tot aardverwarming.
Dit lei tot klimaatsverandering wat meebring dat dit warmer en droër word, en wanneer dit reën, gaan dit met erge storms gepaard wat oorstromings tot gevolg het.
Gelukkig beskik Hessequa oor 'n manier om te help om besoedeling te verminder. Henque Waste verwyder herwinbare materiaal. Dié maatskappy se hoofkantoor is op Riversdal, maar hulle versamel rommel in al die dorpe.
Hulle verskaf 'n gratis sak van herwonne plastiek waarin jy feitlik enige ding buiten babadoeke, afvalkos of bloederige vleisverpakking kan gooi. Die sakke is by die munisipale kantore in al die dorpe beskikbaar.
Wanneer die sak vol is, plaas jy dit uit saam met die vullissak wat die munisipaliteit kom oplaai. Hulle los vir jou 'n nuwe sak.
"Ons versoek dat bonkige goed soos bokse, plastiekkoeldrankbottels en melkhouers platgedruk word sodat dit minder plek in die sak opneem," sê Charlotte Lamprecht van Henque Waste.
Inwoners wat wil begin herwin, kan Henque Waste kontak by 082 552 5373. Bel of stuur 'n WhatsApp met jou straatnaam en -nommer en die dorp waar jy woon.
Die sak en die verwydering daarvan is gratis.
Lees 'n vorige artikel: Plastiek vervuil ons leefwêreld
Wat maak jy met jou plastiek-inkopiesakke?
Suid-Kaap Forum het 'n paar inwoners se mening gevra.
Yolande Fielies: "Ek gebruik die inkopie-sakke weer - as dit nog heel is."
Francelle van der Merwe: "Ek het sakke wat van skadunet gemaak is wat ek gebruik wanneer ek inkopies gaan doen."
Nelmarie Pienaar: "Ek herwin plas-tieksakke, bokse en blikke wat ek elke week saam met die vullis uitsit sodat Henque Waste dit kan kom haal."
Bheki Timothes: "Ek gooi die plastiek-inkopie-sakke weg."
Welna Jacobs: "Ek gebruik die inkopie-sakke weer deur rommel daarin te sit of dit in die vrieskas te gebruik."
Erna Bosman: "Ek het jare gelede sterk inkopie-sakke gekoop en ek neem dit saam winkel toe. Die pakkers weet al ek bring my eie sakke saam."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'