Update
NASIONALE NUUS - 'n Minimumloonsverhoging van 3,8% tree op 1 Maart in werking.
Die minimumloon wat tans R20 per uur is, styg vanaf 1 Maart met 76c per uur tot R20,76.
Plaaswerkers se loon styg van R18 tot R18,68, terwyl huiswerkers se loon van R15 tot R15,57 verhoog. Werkers in die regering se program vir uitgebreide openbare werke gaan R11,42 per uur teenoor die huidige R11 betaal word.
"Dis 'n verligting vir die landbousektor dat die 90%-vergunning steeds in plek gehou is want die sektor is steeds kwesbaar weens die voortslepende droogte," het Neil Hamman, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid - Arbeid en Ontwikkeling, Woensdag 19 Februarie gesê.
Die verhoging is in lyn met die aanbeveling wat deur die kommissie oor die nasionale minimumloon aan die minister van arbeid en indiensneming gemaak is. Met die vasstelling hiervan moet die land se werkloosheidsyfer (29,1%) in ag geneem word om 'n balans te handhaaf wat verseker dat die nasionale minimum loon steeds armoede kan bekamp. Werkloosheid is die grootste drywer van armoede en die land kan nie verdere werksverliese bekostig nie.
"Begrip vir die omstandighede waarin boere hulself bevind is van deurslaggewende belang. Beskerm liefs werksgeleenthede deur vergunning aan boere te gee wat op die stadium nie die minimumloon kan bekostig nie," sê Hamman.
'n Boer van Droë Vlakte wat anoniem wil bly, sê minimumloon of te not, hy het geen plaaswerkers nie. "Veral dagloners wat weekliks betaal word, is net nie die geld werd nie. Tydelike werkers wat in die dorpe woon, werk gemiddeld twee en 'n half dae van die week. Vrydag word hulle betaal en tjaila 12:00. Maandag het hulle kopseer en Dinsdag is hulle by die kliniek. Hulle werk dus net van Woensdagoggend tot Vrydag 12:00 wanneer hulle weer betaal word." Moeg gesukkel het hy uiteindelik al die werkers afgedank en hy en sy vrou hanteer nou self hul aftreeboerdery.
'n Boer van Swartklip sê sy werkers word heelwat meer as die minimumloon betaal. "Hulle kry tot R220 per dag, plus byvoordele soos gratis behuising, elektrisiteit en water, asook bonusse. Vir gespesialiseerde dienste verdien hulle sowat R250 per dag."
Die voltydse werkers wat op die plaas woon kom beter uit met hul geld as die tydelike werkers wat in die dorpe woon, sê hy. "Die casuals is dikwels nie eens die minimumloon werd nie, maar 'n mens het soms ongeskoolde arbeid nodig."
Werkgewers wat nie in staat is om die minimumloon te betaal nie, kan by https://nmw.labour.gov.za/ aansoek om kwytskelding doen.
Vorige artikel: Minimumloon vir almal styg
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'