HESSEQUA NUUS - Skole landwyd maak gereed om weer hul deure vir gr. 7 en gr. 12-leerders te open.
Die nasionale departement van onderwys het streng voorskrifte waaraan voldoen moet word uitgereik en die plaaslike skole is hard besig om alles teen Maandag 1 Junie gereed te hê.
Volgens Mias du Plessis, kringbestuurder van Kring 1 van die Eden en Sentrale-Karoo onderwysdistrik van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het al die skole in die kring op Maandag 25 Mei saam met hul personeel begin voorbereidings tref: "In die loop van die week sal ons skole se gereedheid evalueer."
Suid-Kaap Forum het met ‘n paar skole gesels om uit te vind of hulle gereed is.
Piet de Villiers, hoof van Hoërskool Langenhoven op Riversdal reken hulle is reg vir die uitdaging: "Ons het ons voorraad maskers en skoonmaakmiddels gekry. Die personeel is opgelei om die maatreëls reg toe te pas en die skoolgeboue en koshuise sal skoon en gereed vir die leerders wees."
Mnr. Piet de Villiers
Kairos Senior Sekondêr op Heidelberg pak ook die nuwe fase met vertroue aan, volgens die hoof, Vivian Prins: "Personeel is gretig om weer onderrig te hervat. Ons geboue is skoongemaak en met leiding van die kringbestuur werk ons hierdie week hard om alles in plek te kry om die leerders veilig te kan onderrig. Ons beleid is gereed en die matrikulante se roosters is ook opgestel."
Mnr. Vivian Prins
Laerskool Bertie Barnard op Stilbaai se hoof, Nicky Deetlefs, is eweneens vol vertroue dat hulle vir 1 Junie gereed is: "Ons het al 'n week gelede met ons eie skoonmaakmiddels begin skrop en die departement sal net ons voorraad vervang. Ons het maskers en 'n termometer gekry en die personeel het baie goeie leiding van die WKOD ontvang oor die gebruik daarvan." Deetlefs reken 'n positiewe houding gaan op die ou end die deurslag gee: "Niemand kan 'n waarborg gee dat geen kind siek sal word nie. Mens moet net jou bes doen met wat tot jou beskikking is."
Mnr. Nicky Deetlefs
Melkhoutfontein Primêr het ook volgens die hoof, Ruby Flores, maskers ontvang en vir termometers gesorg. Hulle is hard aan die werk om die geboue skoon te maak. Sy sê haar personeel is nog ietwat onseker: "Baie van hulle is bekommerd, want ons weet nie wat om te verwag nie." Hulle glo egter ook in 'n positiewe gesindheid en sal alles in hul vermoë doen om die veiligheid van leerders en personeel te verseker.
Mev. Ruby Flores
Op die vraag of daar ouers is wat hul kinders eerder by die huis gaan hou, het 'n paar van die hoofde met wie Suid-Kaap Forum gesels het, gesê hulle is bewus van enkele mense wat dit oorweeg. Deetlefs wys daarop dat kinders wat nou uit die skoolstelsel gehaal word, nie noodwendig weer plek gaan kry indien ouers hulle later wil terugstuur nie.
Du Plessis het groot waardering vir elke leerkrag in Hessequa: "Ek wil weereens my dank en waardering uitspreek teenoor elke skoolhoof en personeellid wat positief is en wat meehelp om die 'onderwysbus' stadig, maar seker weer aan die gang te kry.
Dis geen geringe taak nie, maar met die hulp van elkeen kan ons ook hierdie reuseuitdaging die hoof bied."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'