HESSEQUA NUUS - Volgens die jongste amptelike syfers vir 2016, soos deur die Wes-Kaap gesondheidsdepartement verskaf, is 6,3% van alle natuurlike sterftes in die Hessequa-distrik weens MIV/vigs.
"In Hessequa was nuwe pasiënte wat positief vir MIV getoets het in 2016/17 altesaam 145, terwyl dit in 2017/18 altesaam 159 was," sê Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement. "In 2017 het 767 pasiënte, waarvan 34 kinders onder 15 jaar was, teenretrovirale-behandeling ontvang. Sterftes van pasiënte wat op behandeling was, het in 2017 op 38 te staan gekom."
In 'n artikel 'MIV hoef nie noodwendig 'n doodsvonnis te wees nie' (30 Mei 2019) vertel Doreen Weber, MIV- en vigs-berader dat 'n gesonde leefstyl en die nodige medikasie 'n persoon met MIV se lewenskwaliteit kan verbeter.
Die departement van gesondheid reageer soos volg op hierdie berig:
"Graag wil ons net 'n paar feitlike korreksies deurgee op grond van bogenoemde artikel.
Vanaf 1 September 2016 word die volgende kriteria (volgens nasionale beleid) gebruik om pasiënte op lewenslange anti- of teenretrovirale terapie (ART) te begin:
- Alle MIV-positiewe kinders, adolessente en volwassenes, ongeag hul CD4-telling (witbloedselle wat immuunrespons aandui), word behandeling aangebied. Diegene met CD4 350 word gepriotiseer.
- Pasiënte ondergaan beradingsessies om hul gereedheid en bereidwilligheid te bepaal om met ART te begin. Diegene wat nog nie gereed is nie, word gereeld opgevolg en beraad oor die belangrikheid van vroegtydige behandeling en monitering van CD4-tellings volgens kliniese riglyne.
- Basislyn-monitering van CD4-tellings is 'n sleutelfaktor om die nodigheid van voorkoming teen opportunistiese infeksies te bepaal.
- Standaard ART bestaan uit ten minste drie tipes medikasie om die MIV-virus maksimaal te onderdruk en progressie van MIV-siekte te stop.
- Staatstoelae (SASSA) word wel verskaf aan diegene (ongeag watter siekte) wat nie die fisiese vermoë het om meer te kan werk nie. Iemand wat dus MIV-positief is, maar nog kan werk, kan dus voortgaan om te werk en kwalifiseer dan nie vir toelae nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'