Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Persone wat positief getoets word vir HIV, kan 'n gesonde lewe lei.
Die 36ste internasionale herdenkingsdag vir persone wat aan Vigs gesterf het, is Woensdagoggend 15 Mei by die polisiekantoor gehou.
Doreen Weber, 'n vigsberader en-opleier, wat ook die kleuterskool by die Ha!Qua-sentrum bedryf, het polisielede ingelig oor die omvang van die HIV/Vigs-epidemie wat in Hessequa, soos landwyd, hoogty vier.
"Die hartseerste is dat grootmense en skoolkinders wat met die HIV-virus besmet is, nie toegang tot behandeling kan kry voor die infeksie nie 'n sekere vlak bereik het nie," het Weber gesê. "Teen daardie tyd is die telling van rooibloedselle wat die infeksie beveg so laag dat die pasiënt min weerstand teen siektes soos tuberkulose, breinvliesontsteking en ander lewensbedreigende siektes het. Dan is dit te laat vir behandeling."
Kyk 'n video hieronder:
Boonop kry persone wat HIV-positief is nie staatstoelaes wat hulle kan help om gesonde kos te koop nie. Die kwesbaarste groep is individue van tussen 18 en 25 jaar, maar niemand is gevrywaar nie. Volgens Weber kan 'n persoon met HIV besmet word sonder dat hy/sy daarvan bewus is. "Enigiemand kan geïnfekteer word en daarom is dit belangrik dat individue hul gereeld daarvoor laat toets."
Indien iemand HIV-positief is, hoef dit nie as 'n doodsvonnis beskou te word nie, mits die persoon erken dat sy/hy geïnfekteer is, behandeling wil ontvang, bereid is om in higiëniese omstandighede te woon, gesonde kos te eet en medikasie te gebruik.
Verskeie faktore belemmer die behandeling van HIV
- Die stigma wat daaraan kleef is een van die grootste probleme. "Mense verstaan nie dat die virus nie deur alledaagse menslike kontak oorgedra word nie. Jy kan maar tee uit dieselfde koppie drink as iemand wat HIV-positief is." Weens die stigma is veral jong meisies skaam om hulle te laat toets wanneer hulle onraad merk.
- Die sirkel van werkloosheid, armoede en dwelmafhanklikheid speel ook 'n rol daarin dat die pasiënt nie die gratis medikasie wat by klinieke verskaf word gebruik nie, maar dit eerder smous vir dwelms."Die medikasie word verkoop aan dwelmslawe wat dit saam met ander dwelms gebruik."
- Jongmense wat drinkplekke besoek met die doel om 'n 'sugar daddy' te ontmoet' het onbeskermde seks in ruil vir 'n paar rand. "Hulle weet nie wat agter so 'n 'sugar daddy' skuil nie."
- Al gaan haal mans en tienerseuns gratis kondome by klinieke, gebruik hulle dit nie vir die regte doel nie.
Weber wil graag sien dat daar in Riversdal 'n sentrum vir mense wat HIV-positief is, geskep word waar hulle gekoester en nie verwerp word nie, en waar hulle fisiek en geestelik versorg kan word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'