Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Inwoners het Maandagoggend 30 Maart eweveel op die staat as op die Here vir beskerming teen die koronavirus vir hul toelaes vertrou.
Lang toue mense het van vroeg af voor banke, die poskantoor en supermarkte wat Sassa-toelaes uitbetaal, bymekaargekom.
Nooddienspersoneel het hul hande vol gehad: "Die mense luister nie. Hulle hou aan om teen mekaar te staan," het een moedelose amptenaar gesê. "Ons verduidelik en verduidelik vir hulle, maar hulle is gewoond om so naby mekaar te staan. Hulle sal die gewoonte moet breek!"
Fotogalery: Sassa uitbetalings op Riversdal
Personeel by kitsbanke het toegesien dat kliënte 'n veilige afstand van 1,50 m handhaaf. "Ek reinig sommer die kaart saam met die hande," het een gesê.
"Ek is nie regtig bang vir die virus nie, maar 'n mens moet versigtig wees," het Juliana Jacobs van Panorama gesê. "Ek het geen vrees nie," het Aletta Katala van Kwanokuthula gesê. "As die siekte my moet tref, is dit die Man daarbo se wil."
Past. James Taute van die Nuwe Apostoliese kerk het sy buurman dorp toe gebring om inkopies te doen.
"Ons moet mekaar help in hierdie tyd. Ons moet positief en in gebed bly. Ons weet mos die Here sal ons nie wees laat nie..."
Diegene wat inperkingsreëls verontagsaam, het reeds met die gereg te doen gekry. "Heelwat persone is in hegtenis geneem en beboet omdat hulle nie tuis gebly het nie. Volgende keer vat ons hulle hof toe," sê lt.kol. Delecia Isaacs, stasiebevelvoerder.
Kyk 'n video hieronder:
Mens moet maar jou beurt afwag.
Oues van dae is dorp toe gehelp om Sassa-toelae te trek en kos te koop.
Inwoners het baie innoverend met maskers geraak.
Vorige artikel: SASSA-uitbetalings verloop vlot op Riversdal
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'