Update
ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike Dawn (Democratic Alliance Women Network) het Woensdag 5 Desember in die Theronsville-gemeenskapsaal nee gesê teen geweld teen vroue en kinders.
Die funksie is deel van die 16 dae aktivisme teen geweld teen vroue en kinders bewusmakingsveldtog. Inwoners uit die gemeenskap en verskeie sprekers het aan die verrigtinge deelgeneem.
Die voorsitter, Koos Pieterse, het die verwelkoming gedoen waartydens hy noem dat die projek 'n goeie doel dien, maar dat dit 'n 365-dae geleentheid moet wees.
Mary Julies van die traumakamer het hul werking en doel verduidelik. Sy het ook die jongmense aangemoedig om by die buurtwag betrokke te raak.
Adv. Leslie Morris van die departement van gemeenskapsveiligheid van die Wes-Kaap, het genoem dat gesinsgeweld 'n siekte is en nie kleur, ouderdom, ras, arm of ryk kies nie.
"Elke ses minute word 'n vrou verkrag en baie vrouens meld dit nie aan nie, omdat hulle bang is vir die tweede vorm van verkragting, naamlik deur die howe en by polisiestasies."
Morris sê dat elke vrou vir haarself verantwoordelik is en sy moet opstaan en nie 'n slagoffer bly nie. Wetgewing maak dit moontlik vir die vrou om uit sulke omstandighede te beweeg en hulp te ontvang.
Connie Dalton, berader sê dat die Here elkeen met 'n doel geskape het en dat elke individu belangrik is. "Wanneer 'n persoon na haarself kan kyk soos wat die Here na haar kyk, sal die innerlike krag haar in staat stel om uit haar omstandighede te breek."
Venolea Fortuin, voorsitter van Wes-Kaap Oosstreek sê dat geweld teen vroue en kinders letsels laat en baie keer dra die gemeenskap nie kennis van wat agter die mure en toe deure aangaan nie. "Ons as gemeenskap moet mekaar se hande vat en saamstaan. Staan op en sê: 'Ek is die voertuig wat die nodige verandering gaan bring. Wanneer jy jou waarde as persoon ken, kan ons as gemeenskap saamstaan."
Die gaste is op heerlike eetgoed getrakteer en al het beurtkrag veroorsaak dat musiek nie gespeel kon word nie, het Monja Cameron die gehoor met kitaarmusiek en liedjies wat sy self geskryf het vermaak. Die verrigtinge is deur Rita Brits afgesluit wat almal vir hulle insette en bydrae bedank het.
Lees 'n vorige artikel hier: Dawn maak stem dik teen geweld
Van links is adv. Leslie Morris, Mary Julies, rdl. Theresia van Rensburg, Venolea Fortuin en Connie Dalton. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'