Update
HESSEQUA NUUS - Suid-Afrika het die laaste paar jaar onder 'n vlaag van korrupsie en aantasting van regte wat in ons Grondwet verskans word gesteier.
“In die Hessequa-streek het daar oor die laaste paar jaar 'n soortgelyke situasie ontstaan waar eiendomsgebruiksregte deur CapeNature aangeval word. Dit gaan oor die regte van oewerbewoners op die banke van alle getygebonde riviere in Suid-Afrika, asook die oewerbewoners van die Goukourivier,” het Louw Malherbe, direkteur by plaaslike prokureurs op Riversdal, wie namens die meerderheid van die Goukou oewereienaars optree, aan Suid-Kaap Forum gesê.
“'n Openbare deelnameproses was deur CapeNature se Pierre de Villiers gedurende 'n vergadering op 6 April 2010 begin, vir doeleindes van die opstel van ‘n bestuursplan vir getygebondegedeelte van die Goukou rivier,” het Malherbe gesê.
“Ons was almal baie opgewonde oor wat gelyk het na 'n situasie waar alle rolspelers sal saamwerk om 'n bestuursplan vir die Goukou, in die belang van hierdie wonderlike erfenis op te stel,” het Malherbe gesê.
Hy het ook genoem dat GRIPOA (Goukou River Property Owners association) gedurende hierdie proses proaktief deelgeneem het en waardevolle bydraes gelewer het.
Eerste bestuursplan nie wat voorgestel is nie
Gedurende September 2011 het die eerste bestuursplan deur CapeNature die lig gesien, met aspekte wat heeltemal in teenstelling was met wat aanvanklik voorgestel is.
“Dit het in essensie onder andere bepaal dat alle landbougrensdrade oor 'n area, 5m in hoogte bokant die hoogwatermerk en by implikasie ook 5m bo die hoogwatermerk van die getygebonde Goukou soos jy stroomop beweeg, (‘n sogenaamde kusstrook - of te wel “coastal set back line”) verwyder moet word en nuwe strukture beperk word. Dit impakteer alle laagliggende landbou-areas en landbou bedrywighede aangrensend aan die Goukourivier,” het Malherbe verduidelik.
“Dit het ook bepaal dat openbare toegang tot hierdie area verseker moet word in ooreenstemming met die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur (wet 24 van 2008) en 'n grondgebruiksterugslag/beperking moet ingestel word, wat ten doel het om aktiwiteite en strukture op die bogenoemde 5m beplande area te beheer.”
Volgens hom sal die effek van hierdie bepalings duidelik die gevolg hê van die afwatering van bestaande grondgebruiksregte van oewereienaars en boere langs die rivier.
Vanweë die negatiewe impak van CapeNature se voorstelle op grondregte was daar hewige teenkanting van belanghebbendes, wat die gevolg gehad het dat na ‘n 11 jaar proses, die Finale Bestuursplan sonder bogenoemde gewraakte bepalings tot die vreugde van alle deelnemers in Junie 2021 vrygestel was deur CapeNature.
Die vreugde was van korte duur, want op 'n vergadering op 10 Julie 2021 word alle rolspelers ingelig deur mnr Spencer van CapeNature dat die finale Bestuursplan van Junie 2021 nie meer gepubliseer gaan word in die Staatskoerant nie, maar vervang word met die ‘ou’ Bestuursplan wat al die gewraakte bepalings wat grondregte ondermyn bevat. Dit was gedoen op instruksies van dieselfde Pierre de Villiers van CapeNature. Die rede wat vir hierdie ommekeer gegee was “dat Cape Nature nie genoeg tyd gehad het om voorstelle te oorweeg nie.”
In dieselfde vergadering het CapeNature aangedui dat soortgelyke Bestuursplanne ook ten opsigte van 21 ander riviere op ons kus gepubliseer sal word.
“In die agtergrond van ‘n 11 jaar deelnameproses was hierdie optrede van CapeNature uiters teleustellend en was die verskoning wat CapeNature aangebied het vir hierdie ommekeer op hulle eie voorstelle uiters onverstaanbaar en 'n klap in die gesig van die deelnemers aan die proses.
Malherbe noem dat die bepalings van die bestuursplan teenstrydig is met die relevante bepalings van die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur, asook artikel 25(1) van die Grondwet. Hy bevestig verder dat, na advertering van die Bestuursplan deur CapeNature, nog ‘n openbare deelnameproses gevolg sal word.
Indien die Bestuursplan na deelname in hierdie vorm aanvaar word, is dit moontlik dat dié besluit geregterlik hersien word. Sodanige saak mag moontlik na die Konstitusionele hof verwys word, onder andere, weens die betreklike nuwigheid van die betrokke bepalings van die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur.
Kommentaar deur CapeNature
Die riviermondingbestuursplan wat vir 'n finale ronde publieke kommentaar gepubliseer sal word, sluit alle belanghebberkommentaar in soos deur Royal Haskoning ingewin is ná 'n finale publieke vergadering.
Daar was nooit gesê dat die grond onder die vyf meter kontoerlyn van die grondeienaars vervreem sou word nie. Hierdie lyn delinieer 'n kusbestuurslyn waaronder alle ontwikkeling 'n volledige omgewingsimpakassessering (OIA) sal benodig weens die sensitiwiteit van die area. Hierdie lyn is vir die meeste riviermondings so gedelinieer en daar word na hierdie lyn verwys in OIA-regulasies.
Hierdie lyn is nie die lyn wat gebruik word om publieke toegang tot die kuslyn af te baken nie. Die enigste area waar die publiek redelike toegang toegelaat word, is die kussone tussen die hoogwatermerk en die rand van die water in die geval van 'n oop riviermonding.
Ek hoop van harte dat hierdie verwarring die hoof gebied kan word as deel van die formele publieke deelnameproses.
GRIPOA en alle ander belanghebbers sal die geleentheid gegun word om tydens die publieke deelnameproses formeel kommentaar in te dien. Die doel was nooit om die eiendomsregte van grondeienaars wat langs die riviermonding woon te ondermyn nie.
Dit is egter ook belangrik om op te let dat publieke toegang tot die kuslyn in die areas tussen die hoogwatermerk en die rand van die water vasgelê is in die Wet op Kusbestuur.
Kaart met 5m rooi lyn bo hoogwatermerk wat aangetaste eiendomme op Goukourivier aandui net bo Stilbaaibrug.
Vorige artikel: Regte van owerbewoners in weegskaal
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'