Gallery Update
ALBERTINIA NUUS - Hoewel vlak 1 reeds in werking getree het, word vlak 2-protokol steeds by Albertinia Versorgingsdienste toegepas, met verslapping van sekere riglyne.
Die bestuurder. Heleen van den Heever het dit egter goedgedink om inwoners op Woensdag, 23 September 'n bietjie te bederf en op 'n uitstappie te neem.
"Ons het besluit om die inwoners na 'n openbare plek te neem, omdat hulle tydens ons vorige uitstappies nie uit die voertuie mag geklim het nie. As gevolg van 'n grappie deur een van die inwoners het die uitstappie 'n werklikheid geword en alle reëlings is haarfyn beplan," vertel Van den Heever.
Fotogalery: Albertinia Versorgingsdienste geniet uitstappie
Die plaaslike polisie is vir padveiligheid en ondersteuning met die afblok van paaie gekontak. Vrywilligers, beheerraadslede en personeel het gesorg dat streng maatreëls tydens die staptog toegepas word vir almal se veiligheid - en toe is die pad met looprame en rolstoele aangepak!
Die dapper stappers en rolstoelryers se eerste stop was by Voëlroepersfontein waar hulle heerlike versnaperinge onder die Fluisterboom kon geniet, wat deur die eienaar, Marietjie Coetzee voorsien is. Daarna het hulle na 'n kwekery gegaan waar hulle na die plante kon kyk en selfs die donkies met lusernpille uit die hand kon voer. Die 100-jarige Nan Stofberg het gesê dat dit 'n ongelooflike ervaring na soveel jare en selfs met die inperking is om te kon ervaar.
"Dit is nie lekker om vir soveel maande ingeperk te wees nie. 'n Mens kon sien hoe die inwoners se gesiggies ophelder," het Van den Heever gesê. "Die uitstappie het 'n groot impak op hul psigiese en emosionele toestand, ten goede gehad." Hulle beoog nou weeklikse uitstappies sodat die inwoners geleidelik aan die nuwe normaal gewoond kan raak. Die senior burgers wat nie kans gesien het om van die tehuis terug te stap nie, is met 'n bussie teruggeneem. Inwoners het die dag met 'n glimlag afgesluit.
"Ons is ongelooflik dankbaar vir die gemeenskap se hulp en is geseënd om te weet die inwoners kan altyd op hulle staatmaak," het Van den Heever afgesluit.
Vorige artikel: Donkies kry onverwagte bederf
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'