Update
RIVERSDAL NUUS - As daar nou 'n klomp kiepies is wat beslis nie hul eienaar die hoenders in maak nie, is dit Danie Geldenhuys se klomp hane en henne. Hulle is net een bondel vreugde.
En die rede vir sy blydskap is dat sy tros Orpingtons behoorlik op pluimveeskoue pronk.
By die pasafgelope Wes-Kaapse pluimveeskou op Kleinplasie net buite Worcester, waar sowat 125 Orpingtons hul beste pote voorgesit het, het Danie se span 17 eerste plekke en 13 tweede plekke in die verskillende kleurklasse ingepalm.
Dis nou 'n prestasie wat enige teler se hoenderhart warm laat klop.
Danie het aan Suid-Kaap Forum vertel hy nou al vier jaar doenig is met die teel van Orpingtons. "Ek het op 'n plaas grootgeword en het maar altyd 'n belangstelling in plaasdiere gehad.
Maar so vier jaar gelede het die Orpington-gogga my gebyt en het ek met hulle begin teel.
"Dis 'n baie mak ras en hulle is soos troeteldiere vir my. Geen senuweeagtige klompie kekkelende tweepotiges nie."
Hy het op enige gegewe oomblik sowat 80 Orpingtons waarmee hy teel, maar as die henne broei is daar enigiets tussen 500 en 800 kuikens op die plaaswerf.
Danie berei nou sy Orpingtons voor vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat van 5 tot 8 Julie in Bloemfontein aangebied word en waar die room van dié ras hul hoenderspiere gaan bult.
Gegewe sy vorige prestasies kan Danie weer terugkeer met hande vol pryse.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'