Update
ALBERTINIA NUUS - Nog 'n jaar gaan verby sonder dat daar enige aksie van regeringskant is en dan, op 7 Mei 1968 bevestig Jordaan in 'n brief 'die department beoog die bou van 'n dam in die Wydersrivier op die plaas Zandfontein, distrik Riversdal'.
Hy het bygevoeg dat die doel van die goedkeuring van die dam se aanbou vir voorsiening van water aan boere is vir besproeiing, veesuip en vir die Buysplaasnedersetting. Hy maak ook die stelling dat die terrein geskik is vir 'n grondwaldam met 'n betonsykanaaloorloop.
Na menige opvolgbriewe is 'n brief van Jordaan, gedateer 13 April 1970 ontvang wat bevestig dat die dam in die Wydersrivier deur die regering goedgekeur was. Hy meld 'die goedkeuring van die parlement is gedurende die 1968-sitting verkry vir die voorgestelde Zandfonteindam.' Die brief verduidelik verder dat vertraging met die bouwerk aan die dam te wyte is aan inkort van fondse en dat bouwerk nie binne die volgende jaar sal begin nie.
Op 25 Julie 1970, na verdere navrae, het Fouché so gereageer: 'Na verwagting sal daar egter gedurende die 1972/73 boekjaar met die bouwerk begin word. Die verwagting is dat die werk voltooi sal word drie jaar na die aanvang van werksaamhede.' Kaarte is aan die brief vasgeheg. Toe gebeur daar niks in die 1972/73 boekjaar nie.
Dit is toe dat Oosthuizen sy penne begin skerpmaak en briewe uitgestuur het oor die nie-nakoming van beloftes. Sterk woordewisseling was aan die orde van die dag. Daar is ook verwys na die verskillende spelling vir die rivier, wat verwarring kon veroorsaak. Name soos Wydersrivier, Weydersrivier, Weidersrivier en Weyersrivier is gebruik. Laasgenoemde word op die Witskrif (W.P. W - '68) gebruik, met die naam van die voorgestelde dam se naam 'Zandfonteindam' wat ook as 'Sandfontein' gespel was. Die department van waterwese het aangehou antwoord, of die sekretaris, of soms die minister, op Oosthuizen se aanhoudende briewe. Die verskoning was stereotipe '... die ondersoek gaan voort... daar is 'n tekort aan personeel... ander sake het hoër prioriteit... die slik... die hoë soutgehalte...' en dies meer.
Die plan van die dam.
Op 30 Julie 1975 skryf SP le Rous, minister van waterwese aan Oosthuizen waarin hy sê dat die ondersoek voortgaan en die kostes van R1,5 miljoen dieselfde sal wees vir 'n dam in die Gouritzrivier of in die Wydersrivier. Op hierdie brief het Oosthuizen, in sy eie hand geskryf 'Totsiens, Wydersrivierdam.'
Vanaf 1975 tot 1980 het Oosthuizen weer aan die departement van waterwese geskryf en gevra of, weens die droogte, water uit ander bronne, soos die Gamkaspoortdam na die plase gepomp kon word. Louw het uiteindelik die versoek afgekeur met die 'verskoning' dat die Gamkapoortdam slegs 42% vol is en dat baie water verlore sal gaan in die transmissie, oor 160 kilometer daarvan.
Die bevestiging van die Zandfonteindam.
In die tydperk van die oorspronklike vertoë om 'n dam te bou - in 1964 - tot die finale vertoë in 1980 is bouwerk aan 64 damme, of opgaargeriewe, in Suid-Afrika soos volg voltooi:
1964 - (1): Nwnendidam in Mussina, Limpopo
1965 - (4): Hluhluwedam in Hluhluwe, KZN; Klerkskraaldam in Ventersdorp, Noordwes; Stompdrifdam in De Rust, Wes-Kaap en Midmardam in Howick, KZN
1966 - (3): Jerichodam in Amsterdam, Mpumalanga; Korentepoortdam in Krantzkloog, Wes-Kaap en Nahoondam in Oos-Londen, Oos-Kaap
1967 - (1): Buffelsjagdam in Swellendam, Wes-Kaap.
1968 - (5): Glen Alpinedam in Mokopane, Limpopo; Lubisidam in Qamata, Oos-Kaap, Pietersfonteindam in Montagu, Wes-Kaap; Sol Plaatjedam (Saulspoortdam) in Bethlehem, Vrystaat en Westoedam in Amsterdam, Mpumalanga
1969 - (6): Bridledriftdam in Alice, Oos-Kaap; Elandskuildam in Noordwes; Gamkaspoortdam in Prins Albert, Wes-Kaap; Katrivierdam in Seymour, Oos-Kaap, Kougadam (Paul Sauerdam) in Patensie, Oos-Kaap en Oudebaaskraaldam in Ceres, Wes- Kaap
1970 - (3): Bloemhofdam in Bloemhof, Vrystaat; Klipvoordam in Brits, Noordwes en Krugersdrifdam in Bloemfontein, Vrystaat
1971 - (8): Da Gamadam in Witrivier, Mpumalanga; Doringriverdam in Indwe, Oos-Kaap; Gariepdam (Hendrik Verwoerddam in Norvalspont, Vrystaat; Gubudam in Stutterheim, Oos-Kaap; Phippididdam in Thoyouandu, Limpopo; Voëlvleidam in Gouda, Wes-Kaap; Vygeboomdam in Badplaas, Mpumalanga en Witbankdam in Witbank, Mpumalanga
1972 - (1): Xilinxadam in Idutywa, Oos-Kaap
1973 - (4): Driel Barragedam in Bergville, KZN; Pongolapoortdam in Jozini, KZN; Spioenkopdam in Bergville, KZN en Welbedachtdam in Wepener, Vrystaat
1974 - (4): Blyderivierpoortdam in Hoedspruit, Mpumalanga; Lakenvalleidam in Ceres, Wes-Kaap; Spitskopdam in Schmidtsdrift, Noord-Kaap en Xonxadam in Queenstown, Oos-Kaap
1975 - (3): Engelharddam in Letabakamp (Kruger Wildtuin), Limpopo; Kwaggaskloofdam in Worcester, Wes-Kaap en Ncorodam in Tsomo, Oos-Kaap
1976 - (5): Albert Fallsdam in Pietermaritzburg, KZN; Bloemhoekdam in Kroonstad, Vrystaat; Elandskloofdam in Villiersdorp, Wes-Kaap, Madikwedam in Madikwe, Noordwes en Nsamidam in Giyani, Limpopo
1977 - (8): Douglas Weirdam in Douglas, Noord-Kaap; Eikenhofdam in Grabouw, Wes-Kaap; Hazelmeredam in Hazelmere, KZN; Misverstanddam in Porterville, Wes-Kaap; Mthathadam in Mthatha, Oos-Kaap; Steenbrasdam (upper) in Gordonsbaai, Wes-Kaap; Tzaneendam (Fanie Bothadam) in Tzaneen, Limpopo en die Vanderkloofdam (PK le Rouxdam) in Petrusville, Vrystaat
1978 - (4): Middelburgdam in Middelburg, Mpumalanga; Morgenstorddam in Amsterdam, Mpumalanga; Theewaterskloofdam in Villiersdorp, Wes-Kaap en Tsojanadam in Cofimvaba, Oos-Kaap
1979 - (1): Driekloofdam in Harrismith, KZN
1980 - (3): Disenangdam in Mmabatho, Noordwes; Mokolodam (Hans Strijdomdam) in Lephalale, Limpopo en Sterkfonteindam in Harrismith, Vrystaat.
Die bevestiging van die parlement se goedkeuring.
Waterwese en dambouers was inderdaad baie besig in hierdie tydperk. Sedert 1980 is ongeveer 50 nuwe damme, of water opgaargeriewe in Suid-Afrika gebou, maar die drooggeteisterde Albertinia-streek moet maar aan die bitter aalwyn kou om 'n bietjie voggies te kry terwyl die soet water van die weste en die brak water van die ooste steeds ongetem met die Indiese oseaan kennis maak.
Die voorblad van die verslag oor die voorgestelde Weyersrivierdam. Dokumente verskaf.
Die lesse geleer uit die verlede, is moontlik die oplossings vir die toekoms (Anoniem).
• Ander bronne: Wikipedia.
Die berig was aan Hessequa-munisipaliteit gestuur vir kommentaar, maar teen spertyd het ons niks ontvang nie.
Lees 'n vorige artikel: Dié dam was nooit gebou nie
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'