ALBERTINIA NUUS - In Suid-Kaap Forum van 8 Februarie vanjaar het ons berig oor die Gouritzrivier, wat weer na 16 maande begin vloei het.
In hierdie berig het ons beloof om 'n opvolgberig te publiseer oor die omstrede dam, wat nooit gebou was nie. Die navorsing is nou voltooi en ons vertrou dat hierdie berig die boeregemeenskap, maar ook politici sal laat herkou aan die besluite van die verlede.
Tydens 'n vergadering tussen 'n afvaardiging van die 'Gouritzrivier Eienaars' en die minister van waterwese, PK le Roux op 9 Maart 1964, is voorgestel dat twee damme in die Wydersrivier gebou word; 'n groot dam by Romanshoek en 'n kleiner een by Sandfontein.
Die minister het onderneem om ondersoek in te stel, maar geen stawende dokumentasie is beskikbaar om te bewys dat hy hierop gereageer het nie. Op 23 Maart 1965 skryf die Suid-Kaap landbou-unie, op Willem (Willie) Jacobus Oosthuizen, sekretaris van die Albertinia-Noord Boerevereniging se versoek, aan die minister en bevestig dat die landbou-unie al in 1964 'n 'kongresbesluit' geneem het - besluitnommer 23 as volg: "Die kongres versoek die departement van watersake om die hoogste prioriteit aan die bou van 'n dam in die Wydersrivier te verleen".
Na aanleiding van die brief het Le Roux op 14 April 1965 laat weet dat "...'n meetstasie, met 'n outomatiese registreerder is op mnr. FA de Necker se plaas opgerig om die vloei en vloedlesings van die Wydersrivier in te samel."
Dit was verblydende nuus, maar het ook verwarring geskep, omdat daar 'n week vantevore, gedateer 5 April 1965 'n brief van die sekretaris van waterwese, JM Jordaan ontvang was, wat aangedui het dat 'n ondersoek na damterreine in die Gouritzrivier nou afgehandel was en dat vyf moontlike damterreine in die gebied "... vanaf die samevloeiing van die Groot- en Gouritzrivier tot by die see is gedoen."
'n Versoekskrif was aan PK le Roux gestuur wat 42 handtekeninge van plaaslike boere ingesluit het. Dokument verskaf.
Dié brief het baie detail ingesluit oor die hidroliese aspekte, opgaarvermoë en besproeibare grond in die gebied. Wat wel goeie nuus vir die voorstanders van die dam in die Wydersrivier was, is dat die brief verder vermeld het dat die soutinhoud van die water, asook die hoeveelheid slik in die Gouritzrivier, die besluit van sodanige dam negatief sou beïnvloed.
Op 4 Augustus 1965 word 'n versoekskrif aan Le Roux gestuur, wat 42 handtekeninge van plaaslike boere, toe oewerbewoners genoem, ingesluit het. Hul versoek was om die minister in te lig oor die benarde stand van beskikbare water in die omgewing langs die Valsrivier.
Van die feite wat aan Le Roux deurgegee was, is dat die Valsrivier slegs twee tot drie weke loop na goeie reën, maar 20 jaar tevore het dit nege maande van die jaar goed gevloei. Dit was te wyte aan die groei in boerdery aktiwiteite langs die river, wat volgens die teks tot 300% toegeneem het in die voorafgaande vyf jaar.
Verdere verwarring heers toe Jordaan op 4 Oktober 1965 laat weet dat daar vertragings is met verdere ondersoeke vanweë 'n 'ernstige tekort aan personeel en talle ander dringende skemas dwarsdeur die Republiek..', maar dat vyf damterreine op die Wydersrivier gevind is. In ander korrespondensie word verwys na die watergehalte van bronne wat in die Gouritzrivier uitmond. Die water uit die noord en noordweste se soutgehalte is hoog (brak), maar die van die weste en noordweste is soet. Opdamming dus in die Gouritzrivier sou dan 'n vermenging van soet en sout wees.
Soortgelyk, sou die opdamming in die Wydersrivier veroorsaak dat die Gouritz se soutgehalte verhoog word omdat daar dan minder 'soet' water sal invloei.
Sekere boere, veral langs die oostelike gedeeltes van die rivier het kapsie aangeteken teen die opdamming van die Wydersrivier.
Baie briewe word verwissel in die volgende paar jaar en, op 13 Julie 1967 het Thys Rall, lid van die Volksraad wie die tussenganger tussen die landbou unies en regering was, 'n skrywe aan die nuwe minister van waterwese, J.J (Jim) Fouché, wie later as die tweede president van Suid-Afrika in 1968 ingehuldig was, gerig waarin hy pleit dat die dam in die Wydersrivier gebou moet word.
Lees in 'n volgende uitgawe verder.
• Groot dank is verskuldig aan Ludwig Oosthuizen, eienaar van die plaas Rooiheuwel wat sedert 1873 in familiebesit is. Sy oorlede vader (W.J. Oosthuizen) was destyds die sekretaris van die Albertinia-Noord Boerevereniging en baie dokumentasie is bygehou en aan ons beskikbaar gestel.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'