Update
HESSEQUA NUUS - Een van drie verdagtes wat Woensdag 21 Februarie gearresteer is, staan tereg op vier ernstige aanklagtes wat handeldryf in ongelisensieerde vuurwapens, tik, wederegtelike verkoop en fasilitering insluit.
Die mans, onderskeidelik 20, 25 en 32 jaar word direk verbind by die verkoop van tik met 'n totale straatwaarde van R1 000.
Die arrestasies is deur lede verbonde aan die Da Gamaskop en groepstaakspan gedoen: Sers. JM Spangenberg (projekbestuurder), konst. Christiaan Zwiegelaar (ondersoeker) en konst. Nicolaas Olckers (hoofreservis, Hessequa).
Hierdie deeglike ondersoek het ook ontbloot dat minderjariges as 'muile' aangewend word om die dwelms gedurende werksure te stoor, verpak en te verkoop.
Die verdagtes het op Vrydag 23 Februarie in Stilbaai-landdroshof verkyn.
Spangenberg sê: "Lede verbonde aan hierdie taakspan was deur lt. kol. Delisia Isaacs (Riversdal stasiebevelvoerder) bedank vir hul kreatiewe benadering om 'n dwelmnetwerk in die dwelmgeteisterde woongebied, Kwanekuthula te identifiseer en te neutraliseer."
Isaacs het Spangenberg en Zwiegelaar verder bedank vir hul suksesvolle ondersoek wat gelei het tot die arrestasie van André Tieman (27) en Johnical Barnard (18) op drie aanklagtes van handeldryf, wat onderskeidelik gedurende Julie en Augustus verlede jaar plaasgevind het.
Dié verdagtes het op 19 Februarie in die Riversdal-landdroshof verskyn.
Spangenberg voeg by: "Die geveg teen misdaad sal nie hier stop nie. Dag zero het aangebreek vir bendes wat hul binne die Hessequa-grense kom tuismaak en verryk het deur armes uit te buit en dwelmverslawing te promofeer."
Hy doen 'n beroep op die gemeenskap om enige inligting wat tot ondersteuning van dwelmverwante ondersoeke kan wees.
Skakel of stuur 'n Whatsapp aan 082 667 2214.
Inligting sal uiters vertroulik hanteer word.
Lees 'n vorige artikel: Dwelhandelaars bereik dag zero
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'