STILBAAI NUUS - Die eenvoudige resep is vissermanne vang vis, viskopers in die dorp koop dit en verkoop weer op hul beurt aan groothandelaars. En almal is gelukkig. Toe nie.
Daar lê egter meer agter die proses as wat op die oog af blyk en grendeltyd het ook die bedryf sleg getref.
Aan die een kant is visaankopers wat van die pryse wat groothandelaars aanbied, afhanklik is. Aan die ander kant is die vissermanne self, wat met harde werk ’n lewe uit hul vangste moet maak en die skippers wat baie onkostes soos aas, brandstof, salarisse en lisensies het.
Visaankoper Dougie Cramer stel die probleem uit sy oogpunt só: “Ons tree as middelman vir die plaaslike vissers op. Ons koop hul vangste teen ’n sekere bedrag en verkoop dit weer aan groter plekke. Almal wen daardeur. Met die inperking is restaurante toe, markte het drasties verminder en pryse het geval. Ons koop steeds soveel as moontlik en maak nie wins nie.”
Hy sê hulle as kopers is as’t ware aan die groot kopers uitgelewer: “As die groothandelaar my ’n goeie prys betaal, kan ek teen ’n hoër prys vanaf die vissers aankoop. Ek het nie ’n sê oor die prys nie. Aanvraag is egter nou só laag dat mens werklik moet vat wat jy kan kry, net om aan die lewe te bly.”
Vissermanne sukkel
’n Paar plaaslike vissermanne wat onder voorwaarde van anonimiteit met Suid-Kaap Forum gesels het, sê egter dis nie die hele waarheid nie. Een van hulle verduidelik: “Bemanningslede op ’n boot kry ’n sekere persentasie van hul vangste. Waar almal vroeër ’n lewe uit byvoorbeeld 150 kg vis kon maak, ly die skipper nou ’n verlies teen die laer pryse. Dís waar die viskoper moeite moet doen om ander markte te soek, sodat pryse meer in lyn met die kleinhandelpryse kan wees. Die visserman kry dalk nou R40/kg teenoor die R52/kg wat voor inperking gegeld het, maar in die winkel betaal jy meer as dubbel daardie prys.”
Een van die ander reken hulle is eintlik aan ’n prysoorlog uitgelewer:
“Vissermanne wat nie die huidige prys wil aanvaar nie word voor die keuse van take it or leave itgestel. As hy nie die aanbod aanvaar nie, kan viskopers hul voorraad met vangste vanaf sleepbote aanvul. Hoewel sleepbote nie vis soos kabeljou by ons kus mag uittrek nie, weet die verbruiker dit nie en winkels maak steeds hul wins, terwyl die visserman aan die kortste ent trek.”
Die verlaagde aankoopprys het ’n domino effek waardeur almal geraak word. Nog ’n visser sê hul viskoper het aanvanklik meer per kilogram betaal.
Groothandelaars wat egter een maal ’n laer prys by iemand anders kon kry, gaan nie later meer betaal nie. “Almal is nou gedwing om die laer prys per kilogram te aanvaar. Maar die viskopers se onkostes het nie verhoog nie en winkels verkoop die produk steeds ten duurste aan verbruikers - iets maak nie sin nie.”
Visaankoper Dougie Cramer sê die inperking het die mark verklein en vispryse het geval. Foto: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'