HESSEQUA NUUS - "Ons gemeenskap besef nie die erns van Covid-19 en dat mense daarvan doodgaan nie."
Dit is die woorde van Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles tydens 'n persoonlike onderhoud met Suid-Kaap Forum op Dinsdag, 19 Januarie.
Riddles is onlangs positief vir die virus getoets en hy en sy familie wat met hom in aanraking was, moes hulself isoleer. Die familie was vir 'n kort blaaskans by Botterkloof-oord buite Stilbaai toe hy sy resultate ontvang het. Hy het by die oord agtergebly tydens sy isolasietydperk van 10 dae.
"Ek weet nie waar en hoe ek die virus opgedoen het nie. Ek dra my masker wanneer ek by die huis uitgaan, was my hande gereeld en hou by al die Covid-19-regulasies," vertel hy. Volgens hom was dit 'n moeilike tydperk en wens hy dit niemand toe nie. "My lyf, kop en keel was seer, ek het diarree gehad en dit het gevoel of 'n geweldige swaar voorwerp op my bors rus en het ek gesukkel om asem te haal."
Hy vertel dat hy saans soms te bang was om aan die slaap te raak, omdat hy nie geweet het of hy die volgende oggend gaan wakker word nie. "Jy begin stres, jou hartklop versnel en jy raak paniekerig, wat sake vererger. Die privaat ambulansdiens se personeel wat my gehelp het was wonderlik; so ook die oord se eienaars, Gert en Elsa Kruger - hulle is engele. Dr Karlien van Zyl van Stilbaai het my elke dag gebel en ek het suurstof gekry om my asemhaling te vergemaklik. Ek kan die Here dank dat ek hierdeur gekom het."
Tydens sy isolasietydperk het hy vir homself gesorg, hoewel sy ma soms vir hom kos gebring en neergesit het.
Hy het egter 'n belangrike boodskap vir die gemeenskap. "Ek wil vir almal sê: Dis nie maklik nie. Covid-19 is 'n werklikheid. As ons kyk na hoeveel mense in Hessequa gesterf het en die syfers wat ons daagliks kry, is ek baie bekommerd oor ons streek. Ek ken baie mense persoonlik wat gesterf het as gevolg van die virus. Baie mense dra steeds nie maskers nie en kuier nog in groot getalle bymekaar. As almal saamwerk en die Covid-19-regulasies nakom, kan ons die pandemie hokslaan," het hy afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'