Update
RIVERSDAL NUUS - Wat laat 'n mens 420 keer rondom jou huis hardloop?
Die passie om mense wat behoeftig is te help in tye van swaarkry, sê Danie Geldenhuys wat saam met sy vrou Alida die eienaars van Bali Trading is.
Soos almal is hy en sy gesin huisgebonde - net soos die 70 mense wat in hul diens is. "Almal se inkomste het opgedroog, maar 'n mens het steeds jou normale uitgawes. Na 'n week by die huis het ek begin wonder hoe ek iets vir die gemeenskap kan doen."
Hy het 'n week tevore op Facebook gesien hoe mense oefen deur in hul erf te hardloop. "Ek het besluit om so iets aan te pak, maar om sommer terselfdertyd geld in te samel vir die dorp se gemeenskap wat weens die Covid-19 inperking regtig swaarkry."
Gesinstyd
Hy het immers al ses keer die Comrades voltooi en sy beste tyd daar was agt uur en 26 minute. Deur die voorafgaande week het hy elke aand op Facebook sy voorneme bekend gemaak en mense het begin geld belowe indien hy dit regkry. "Ek moes drade en hekke verwyder sodat ek al om die huis kon hardloop. Die ondersteuning van die begin af was ongelooflik en ek het geweet dat die projek geseënd is"
Saterdag 12 April was die egpaar en hul drie kinders Jana (12), Muller (11) en Lila (7) al 05:00 wakker en opgewonde oor wat voorlê. Hulle het vir hom 'n watertafel ingerig en met ballonne verfraai.
"Die twee dogters was pompom girls, terwyl Muller musiek gemaak het." Hulle het ook van die rondtes saam met hom gehardloop: Alida het die meeste van die tweede helfte saam met hom gedoen. "Ons het tussendeur lekker grappies gemaak en gedans - as gesin het ons saam 'n ongelooflike dag beleef wat ons altyd sal onthou."
Virtuele skare
Hy het sesuur weggespring en vyf uur en 27 minute later het hy die eindstreep bereik. Hy het vooraf met 'n afstandwiel bepaal dat die roete om die huis 120 m lank is. "Toe ek met die GPS meet, besef ek dis net 100 m - ek moes dus 420 keer om die huis hardloop. Ek het elke kilometer van rigting verander om beserings te voorkom," vertel hy. "Ek het 'n pad deur my grasperk gehardloop. Met al die draaie, swaaie, hekke, wasgoedlyn en honde het die marathon my baie langer geneem as wat ek beplan het, maar dit was beslis die moeite werd!"
Omdat niemand dit kon bywoon nie, het hy deurlopend video's en boodskappe op Facebook geplaas en ondersteuners in Australië, Israel, Engeland en Nieu-Seeland het hom aangemoedig.
Kospakkies
Teen Maandagaand het hy reeds meer as R89 000 ingesamel. "Ons gaan kos koop en kospakkies laat opmaak wat ons deur middel van kerke en leiers sal laat uitdeel aan mense in die gemeenskap wat regtig behoeftig is."
Die Geldenhuyse is die afgelope 15 jaar by Bali Trading, wat Alida se ouers 21 jaar gelede begin het, betrokke. "Ek wil graag ons familie, vriende en die gemeenskap bedank wat my gehelp het om 'n sukses van die ingeperkte marathon te maak. Ons gee alle eer aan die Hemelse Vader vir die inisiatief en dat die projek goed afgeloop het - ons is dankbaar vir almal se ondersteuning.
"Ons dien 'n lewende God wat ons nog nooit beskaamd laat staan het nie en al is ons nou in 'n onseker tyd, gaan ons saam sterker anderkant uitkom.
Sterkte vir almal in die tyd - ondersteun en bemoedig mekaar."
Sy tuin-tyd was beter as sy Comrades-tyd.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'