Update
ALBERTINIA NUUS - Lauren Buchan was op Woensdag 8 Augustus in 'n motorongeluk sowat 5 km buite Albertinia betrokke.
Haar twee honde waarvan Charlie, 'n babahondjie een was, het saam met haar gereis. Charlie het na die ongeluk weggehardloop. Van die boere wat op die toneel was het hom agternagesit, maar dit was tevergeefs. Hy kon nêrens gevind word nie.
Buchan het op Albertinia Nuus se Facebook-blad genoem dat sy na hom soek. Nolene Bouwer het dit gedeel en die voorsitter van Community Animal Rescue Society (Cars), Sandra Lotz het dit raakgesien en dit ook gedeel. Sy het selfs drukkers van Albertinia gekontak om plakkate te maak, wat dit aan Cars geskenk het as hul bydrae om Charlie te soek.
Lotz het vertel: "Ek het Audrey Lacey wat in dié dorp woon genader om Cars by te staan en die plakkate op te sit.
Dit was verskriklik koud Donderdagaand 9 Augustus en dit was net vir my te erg om te dink Charlie is buite in die koue. Ek het vir Lacey gesê dat as ons Charlie nie teen Saterdag kry nie, ons die middag moet gaan stap om hom te soek."
Wonder bo wonder het Adam September, Charlie teen die pad gevind. Hy het hom geroep en na sy huis geneem.
Nadat September een van die plakkate in die dorp gesien en Lacey gekontak het, het sy die hond by hom gaan oplaai en is in die sorg van Cars geplaas.
Lotz het gesê: "Charlie het soveel trauma deurgemaak dat hy baie gebewe het. Dit is ook as gevolg van die koue en sy asem het vreeslik gejaag. Ek het hom lekker warm toegemaak en veilig gehou tot hulle hom kom haal het."
Dieselfde aand nog, was Charlie terug by sy huis waar hy gou die bed geannekseer het. Buchan en haar man was so dankbaar dat hul Charlie teruggekry het, dat hul dadelik 'n skenking aan Cars gemaak het. R500 daarvan sal aan September oorhandig word en R200 aan Lacey vir haar deelname.
Lotz sê dit is vir haar 'n riem onder die hart om baas en dier met mekaar te herenig. Buchan het op Facebook die plaaslike polisie, nooddienste, lede van die gemeenskap en landbouers van die omgewing bedank.
Lees 'n vorige artikel: Charlie gesoek na motorongeluk
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'