STILBAAI NUUS - 'Time flies when you're having fun,' reken die voorsitter van die plaaslike toerismeburo, Dries de Beer.
Sy verslag wat op die buro se 2018/2019 algemene jaarvergadering Dinsdagaand 3 September in die gholfklub voorgelê is, spreek van 'n groep bestuurslede vir wie Stilbaai en sy mense besonder na aan die hart lê.
Gedurende hul termyn het die ledetal tot 205 opgeskuif. Meer as 5 000 besoekers van sowel plaaslike as oorsese bestemmings het die register in die buro se kantoor geteken.
Hoewel Piet Paling se familie verskoning vir die vergadering gemaak het, was hulle die sterre van die jaar met bykans 3 000 mense wat kom kyk het hoe die palings gevoer word.
Die buro het suksesvolle projekte soos Kersfees in Julie en die Dorp van die Jaar-veldtog op hul kerfstok. Die inligtingkiosk by die brug is opgeknap en binnekort word 'n A3-grootte kaart met bergfietsroetes bekendgestel. Akkreditasie van die dorp se verblyfgeriewe is goed op dreef. Die jaarlikse Brood- en Beskuitfees sal op 21 September plaasvind en die Liefdesweek sal volgende jaar van 10 tot 15 Februarie gehou word.
Tydens die vergadering is amptelik van Hannetjie Ferguson wat na 25 jaar as bestuurder van die toerismeburo afgetree het, afskeid geneem. Sy en Elza Thiart-Botes het spesiale toekennings vir uitnemende diens aan die plaaslike toerismebedryf ontvang. 'n Skildery deur die kunstenaar Ingrid Smit is aan Louise Mouton-Botha vir haar rekordgetal stemme vir die Dorp van die Jaar-veldtog oorhandig.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder, het aanwesiges die versekering gegee dat Desember in dié kusdorp nie weer soos verlede jaar rioolprobleme sal oplewer nie. Volgens hom is die kontrakteur fluks besig met die opgradering van die rioolwerke om 'n reukvrye seisoen te verseker.
Die aand is met 'n gesellige kuier rondom tafels vol heerlike eetgoed afgesluit.
At the annual general meeting of the Stilbaai tourism bureau held at the golf club on Tuesday 3 September the chairman Dries de Beer tabled a report that speaks of a successful 2018/2019 term. The member count has grown to 205 and a number of projects were either completed or are nearing completion. Hannetjie Ferguson who recently retired after 25 years as manager of the bureau received a special award for her contribution to local tourism. Elza Thiart-Botes received similar recognition for her efforts.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'