RIVERSDAL NUUS - ’n Bruinjakkalsvoël, wat met ’n gebreekte vlerk in ’n plaaslike dierekliniek opgeneem is, sterk goed aan.
’n Inwoner het die roofvoël verstrengel in ’n bos gevind.
By die kliniek is hy gestabiliseer voor digitale x-strale van die vlerk geneem is om vas te stel hoe ernstig die besering is.
Uiteindelik is ’n pen in die regter-vlerkbeen geplant voordat dit gespalk is. Hy is drie weke lank met antibiotika en pynstillers behandel. Toe is nog x-strale geneem wat aangedui het dat die vlerkbeen besig is om aan te groei.
Hy moes egter nog ’n paar weke lank by die dierekliniek aansterk voordat hy in die sorg van Nita Wessels van Askop, wat beseerde diere rehabiliteer, geplaas kon word. Sy sal hom met die nodige versorging en dieet pamperlang sodat hy verder kan gesond word voordat die pen verwyder word. Hy sal dan gerehabiliteer en vrygelaat word.
Dié mediumgrootte roofvoëls van sowat 45-50 cm hoog, word dikwels gesien waar hulle op ’n telefoonpaal, heiningpaal of ’n boomstomp langs die pad sit. Hulle vreet hoofsaaklik insekte, maar vang ook klein voëls soos wewers en kwartels, klein soogdiere, akkedisse en paddas.
Bruinjakkalsvoëls paar vir altyd. Hulle kom op hul eie of in klein swerms voor, veral waar ’n goeie voedselvoorraad voorkom of wanneer hulle migreer. Dié jakkalsvoëls kom in die somer wydverspreid oral in die land buiten die dorre westelike gebiede voor.
Hulle kom gewoonlik in September hier aan en vertrek weer in Maart-April na Europa en Siberië waar hulle broei.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'