RIVERSDAL NUUS - 'n Bejaarde Britse toeris wat Donderdag 14 Februarie in 'n ongeluk by die Goukoubrug buite die dorp betrokke was, was die ene glimlagte nadat hy bietjie bederf is.
Brian Roy Hendricks (77) van Yorkshire, Engeland het omstreeks 15:35 beheer oor die gehuurde Toyota Corolla verloor, wat omgeslaan en op die sykant langs die pad beland het.
Hy kon nie die deur van binne af oopkry nie, maar motoriste het stilgehou en hom gehelp om uit te klouter. Hy was alleen in die motor en is nie beseer nie.
Dit was nie al ellende wat hom op Valentynsdag getref het nie. "Dis beslis nie my dag nie; al die goed wat binne-in die motor was, is oornag by die gastehuis in Belville gesteel," het hy gesê.
Maar eind goed, alles goed. Avis het die voertuig vervang en Hendricks kon sy reis voortsit.
Ilse Jacobs van Oudtshoorn lewer namens die Wes-Kaap regering 'n ondersteuningsdiens aan internasionale toeriste wat in die Suid-Kaap reis en iets oorkom. "Ek het hom Vrydag by sy hotel in Wildernis ontmoet om seker te maak hy is oukei na die ervaring. Ek het hom apteek toe geneem vir medikasie en saam met hom gaan koffie drink."
Hy het later vir haar 'n mooi dankie-sê boodskap gestuur, al het hy haar naam bietjie verkeerd gehoor. Hendricks, wat op 30 Januarie in Suid-Afrika aangekom het om sy ma se 99ste verjaarsdag te vier, het 'n paar dae in Wildernis gekuier voor hy verder deur die land toer. Hy keer einde Februarie na Yorkshire terug.
Brian Roy Hendricks, ’n Britse toeris, wat alleen deur die land reis, is geskok maar ongedeerd nadat die gehuurde voertuig waarin hy gereis het, net voor die brug oor die Goukourivier omgeslaan het. Foto’s: Tisha Steyn
Brian Roy Hendricks het dié dankie-sê boodskap aan Ilse Jacobs gestuur nadat sy gaan seker maak het hy ly nie aan enige nadelige gevolge na die ongeluk nie.
Brian Roy Hendricks (77) wys die lys van goed wat oornag uit die gehuurde motor buite die gastehuis in Belville, waar hy oornag het, gesteel is.
Die gehuurde Toyota Corolla het op sy kant langs die N2 te lande gekom nadat dit oor die pad getol het en omgeslaan het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'