Update
HESSEQUA NUUS - Die prys van brandstof het vanjaar behoorlik wipplank gery.
Wanneer 'n mens die verandering in brandstofpryse deur die jaar in oënskou neem, blyk dit dat die prys van 'n liter 93 oktaan-petrol sedert die begin van die boekjaar feitlik elke maand gestyg of gedaal het.
Nes 'n mens dink dis 'n bietjie goedkoper, is dit al weer duurder.
Volgens Meshel Muzuva, 'n senior lektor in finansies en ekonomie aan die tersiêre instelling Mancosa kan die wisseling onder meer toegeskryf word aan die olieprys. Daar is egter ook ander faktore, soos die ekonomiese knyptang waarin die land weens onder meer beurtkrag en minder buitelandse beleggings verkeer.
Die prys word maandeliks aangepas en verskeie faktore speel 'n rol, soos die rand/dollar-wisselkoers, die nuwe Padongelukfondsheffing en die koste van skeepsvervoer.
"Die verswakking van die rand beïnvloed die prys van olie wat in dollar aangekoop word. Selfs al daal die internasionale olieprys, gaan dit weens die swak rand duur bly. Dit lei daartoe dat die brandstofprys aanhou wipplank ry," sê sy. Volgens haar is die jongste daling te wyte aan die ietwat sterker rand gedurende Oktober.
Ongelukkig is dit die verbruiker wat die spit moet afbyt. "Die brandstofprys brand 'n al groter gat in mense se sakke. Dit is geld wat in baie gevalle eerder aan ander noodsaaklike uitgawes bestee moet word."
In Maart vanjaar was die prys R14,60. In April het dit tot R15,94 gestyg. In Junie was dit R16,57, terwyl dit in Julie tot R15,61 gedaal het. In Augustus het dit tot R15,72 en in September verder tot R15,83 gestyg.
In Oktober het dit tot R15,79 en op 6 November tot R15,66 gedaal. Dit is nog nie duidelik wat die prys in Desember gaan wees nie.
Lees 'n vorige artikel: Brandstofprys ry wipplank
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'