HESSEQUA NUUS - Dit is die tweede keer in dieselfde jaar wat ons streek 'n groot brand beleef en geweldige verliese ly.
Die Vermaaklikheid-brand het Sondagmiddag 21 Oktober uitgebreek en woed steeds op 'n pad van vernietiging voort, met groot dele van die streek en inwoners wat skade ly.
Die helikopter van Working on Fire is Maandag 22 Oktober ontplooi om met die brandbestryding te help. Dit was 'n skok toe ons verneem dat die Huey-helikopter, met Nico Heyns as vlieënier, neergestort het.
Namens myself en die Hessequa-gemeenskap, deel ons hiermee ons medelye en simpatie aan die familie en gesin van die oorledene deur hierdie tragiese gebeure. Ons harte gaan uit na die oorledene wat 'n onbaatsugtige diens aan Hessequa gelewer het.
Die familie is in ons gebede in hierdie moeilike tyd.
Die Hessequa-munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering op Dinsdag 23 Oktober die voorneme om die gebied as plaaslike rampgebied te verklaar geneem, en besluit om die versoek aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit te rig ter ondersteuning in terme van art. 55 van die rampbestuurwet 57 van 2002.
Ek wil graag ook elke inwoner van die streek bedank vir enige bydrae, hetsy water, goedere, kos, geld of enigiets anders wat gelewer is aan die brandbestryders om hulle te help om hul werk te verrig. Ek is trots om burgemeester van so 'n munisipaliteit wees.
Ek wil graag ook vir elke munisipaliteit, distriksmunisipaliteit, SCFPA, WoF, Overberg, Mossel Bay Helicopters, die weermag, CapeNature, Envire Wild Fire, plaaswagte en al die brandweerdienste, brandbestryders en vrywilligers, maar ook diegene wat ek dalk mag uitgelos het, bedank vir julle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'