RIVERSDAL NUUS - Afgesaagde boomtakke op 'n sypaadjie in Wyk 7 het in 'n klein relletjie ontaard en dreig nou om kwaai buurmanskap te veroorsaak.
Daar is glo wantroue in die lug en veral in Gazaniastraat heers 'n effense ongemaklike stilte.
Werknemers van Hessequa-muni-sipaliteit is al geruime tyd besig om voetgangerpaadjies, oftewel sypaadjies, skoon te maak en om veral takke wat straatligte toegroei en vrye beweging versper, terug te snoei.
Hulle was die afgelope paar weke taamlik bedrywig in Gazania-, Bauhinia- en Lanoriestrate met dié skoonmaakproses.
Daar is vrae oor wie se verantwoordelikheid dit is om sypaadjies skoon te hou en ook wat inwoners op die einste sypaadjies voor hul erwe mag en nie mag doen nie.
Om verwarring oor dié rolle op te los, het Suid-Kaap Forum by die munisipaliteit gaan aanklop vir antwoorde. Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie, sê sypaadjies wat grens aan plattelandse paaie - soos Riversdal se teerstrate - is munisipale eiendom.
Die munisipaliteit het dus die reg om die eiendom en enige grond aangrensend aan strate, op te gradeer en te onderhou. Dit sluit natuurlik alle sypaadjies in en kan selfs verder verleng word as net bloot die sypaadjie.
Budricks sê onderhoud word gereeld gedoen om te voorkom dat sypaadjies met ongewenste plantegroei, soos onkruid, oorgroei word.
"Nie net kan ongewenste plantgegroei padgebruikers en voetgangers steur nie, maar dit kan ook in sommige gevalle die omgewing bedreig."
Hoewel inwoners wel die sypaadjies voor hul huise mag skoonmaak en met toestemming daar tuin kan maak, bly die grond steeds die munisipaliteit se eiendom en hul verantwoordelikheid om te onderhou.
Die boomtak In Gazaniastraat, wat vrye beweging op die sypaadjie versper het, is deur werknemers van die Hessequa-munisipaliteit afgesaag.
Foto's: Hugo Redelinguys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'