Gallery Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die jaarlikse landbouskou het opnuut die klem laat val op die gewildheid van die boerboel as eg Suid-Afrikaanse hond met 'n gawe temperament.
Die SA Boerboel Breeders Society (SABBS) het vanjaar hul sewende boerboelkampioenskap by die skou gehou. Altesaam 98 honde van agt weke tot ouer as vyf jaar is in die verskillende ouderdomsafdelings ingeskryf.
Johan Blomerus van Kroonstad in die Vrystaat was die beoordelaar. "Die doel met die kampioenskap is om te bepaal of die honde vir teling geskik is," verduidelik hy. "Die skougedeelte van die kampioenskap is om die kwaliteit van die honde in die verskillende ouderdomsgroepe ten toon te stel."
Die vroulike en manlike diere word afsonderlik vertoon en beoordeel. Daar word met die jongste honde begin.
Volgens Blomerus word na verskeie aspekte opgelet. "Die tefies moet 'n vroulike bou hê. Dit beteken hulle moet fyner en gladder bespiering hê, terwyl die reuntjies 'n manliker bou moet hê. Mens moet met die eerste oogopslag kan sien dis 'n reun. Albei geslagte se bou moet struktureel korrek wees en hul beweging moet vloeiend wees."
Hy lig verskeie kenmerke uit: Die rug moet reguit wees, die pote moenie plat wees nie en die agterbene se hakke moenie binnetoe buig nie, maar die bene moet ook nie te reguit wees nie.
FOTOGALERY: SEWENDE BOERBOELKAMPIOENSKAP
Onder die bekende telers wat honde vir die kampioenskap ingeskryf het was Beverli Katz van Klein Sandfontein Boerboele by Caledon, Kenny van der Merwe van Elevation Boerboele by Oudtshoorn en Ederies Mokadam van Renaissance Boerboele in Kaapstad. Katz se reun Middelpos Tank is as reserwe-kampioen aangewys, terwyl Mokadam se SA Superior Pepper as die grootkampioen aangewys is.
Katz en Van der Merwe is dit eens dat die honde se geaardheid die belangrikste kenmerk is. "Ek konsentreer op die geaardheid - ek hou nie van 'n bang of 'n aggressiewe hond nie," sê Van der Merwe. Die honde se grootte is 'n afskrikmiddel vir misdadigers, maar hul geaardheid maak van hulle geskikte gesinshonde.
"'n Goeie temperament, goeie gesondheid en 'n goeie bouvorm is vir my belangrik - die boerboel moet mooi wees," sê Katz.
Kyk 'n video hieronder.
Die ras kom oorspronklik uit die Nederlande. "Die honde wat saam met Jan van Riebeeck hier aangekom het, is 'bullenbijters' genoem. Hulle het mettertyd met die inheemse Africanus-ras vermeng geraak en die hond geword wat die Voortrekkers aangehou het."
Hy teel al 30 jaar lank boerboele. "Ons laat die tewe eers drie maal op hitte kom voor ons hulle vir teling gebruik. Die ideale ouderdom vir die vroulike diere om te begin is tussen 18 en 24 maande. Reuns is op 12 maande vrugbaar, maar telers wag gewoonlik tot hulle 15 maande oud is. Reuns piek op 18 maande, terwyl 'n teef op ses, sewe jaar die beste ma is. Die gemiddelde werpsel is agt tot 10, maar die ideale werpsel bestaan uit agt omdat die teef agt spene het.
SABBS kan by 051 410 0950 gekontak word, of stuur 'n e-pos aan office@sabbs.org
Beverli Katz van Klein Sandfontein Boerboele met Middelpos Tank, die reserwe-kampioen. By haar is Andries Fourie van Jock-hondekos.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'