Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die 2020-matriekleerders van beide hoërskole in Heidelberg se ekstra lang gewag na 'n jaar van groot onsekerheid het weer eens groot blydskap, maar ook trane van vreugde en hartseer gebring.
Hoërskool Heidelberg (HSH) kon ongelukkig vir die tweede agtereenvolgende jaar nie hul 100% slaagsyfer handhaaf nie en het 95% behaal.
Kairos Senior Sekondêr het wel met 'n slaagsyfer van 95,8% verbeter. Die skool se slaagsyfer vir 2019 was 76,4%. Uit 52 matrieks het 48 die eindeksamen geskryf en twee het nie die paal gehaal nie.
28 leerders het Baccalareus-vrystelling verwerf, wat die hoogste in die skool se 27 jare is, asook sewe diploma en 11 hoër sertifikaat vrystelling.
Andrew Rossouw met sy 80,3% slaagsyfer en ses onderskeidings in Afrikaans, Engels, geskiedenis, besigheidsstudie, wiskunde geletterdheid en lewensoriënteringsstudie is Kairos se toppresteerder. Hy is deur Tiffany Februarie met 77,1% en Jayren Roberts met 75,4% gevolg.
By HSH het 75% leerders met Baccalareus-vrystelling geslaag, terwyl 15% met diploma toelating slaag. Isabella Rhode is hier die toppresteerder.
Intussen moes twee leerders, Maunecia Pietersen en Taryn Rossouw ook die gevolge van die Covid-19-pandemie trotseer.
Pietersen was voor die eindeksamen deur die virus platgetrek en moes twee weke by die huis in kwarantyn wees.
Rossouw moes ook in kwarantyn gaan omdat sy in kontak met geïnfekteerde persone was.
Volgens haar het sy twee dae in die "wit hokkie" wat as kwarantynlokaal by die skool ingerig was, haar eksamens afgelê.
Kyk 'n video hieronder:
Maunecia Pietersen en Taryn Rossouw van Hoërskool Heidelberg. Foto's: Clive Pretorius
Andrew Rossouw
Vorige artikel: Vreugde en trane vir Heidelberg
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'