Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - WITSAND Dié gewilde kusdorp naby Heidelberg is nou, saam met Lappiesbaai, Preekstoel en Gouritsmond die vierde strand in die Hessequa-streek met blouvlagstatus en is die vlag amptelik vir die eerste keer Donderdag 6 Desember gehys.
André Hansen, hoof van die parke-afdeling van Hessequa-munisipaliteit het die seremonie gelei en het verduidelik dat daar 'n reeks verpligtinge saam met dié status kom.
Vanaf die 2018-somerseisoen sal die blou vlag elke oggend deur die lewensredders by die strand gehys word.
Wat beteken dit?
• Die strandgebied self, asook die was- en stortgeriewe is deurentyd netjies en skoon;
• Die strand is veilig om te besoek vir ontspanning en swem;
• Opgeleide lewensredders is elke dag aan diens;
• Die munisipaliteit, natuurbewustes en omgewingsbewarings-entoesiaste werk baie nou saam om die gebied se natuurskoon behoue te laat bly.
Caville Abrahams, lewensredder-koördineerder en -opleier vir die streek vanaf Witsand tot Mosselbaai het die versekering gegee dat die opleiding van hoë gehalte is. Op 'n vraag aan Jaydin September, Witsand-lewensredder oor hoeveel mense hy al uit die see gered het, het hy geantwoord dat die prestasie daarin lê dat niemand eintlik onder toesig van lewensredders in die moeilikheid moet beland nie. "As jy niemand vir die dag moes gered het nie, het jy goeie werk gedoen!"
Vir die dorp self beteken dit dat toeriste en vakansiegangers met geruste hart hierheen kan kom.
Tesame met die vooruitsig dat die dorp van hierdie seisoen af deurentyd vars water uit die krane beskikbaar sal hê wanneer die ontsoutingsaanleg in werking kom, maak nou van Witsand 'n uitsoekvakansieplek.
Die verwagte toestroming van besoekers en oorsese toeriste is natuurlik goeie nuus vir naburige dorpe se besigheids- en besienswaardighede.
Kyk 'n video hieronder:
Teenwoordig by die blouvlag-seremonie was die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, raadslede Annamarie Joubert en Simon Odendal, lewensredders Kelville Abrahams, Jaydin September en Aidin Erasmus, asook Christopher September van die munisipaliteit en ‘n inwoner van Witsand, Johan de Lange.
Abrahams, lewensredder-koördineerder en -opleier vir die streek Witsand tot Mosselbaai, het die versekering gegee dat die opleiding van hoë gehalte is.
• Lees meer in Suid-Kaap Forum.
Van links is Jaydin September, Johan de Lange, Kelville Abrahams, Christopher September, Aiden Erasmus, Harold Basson, rdl. Grant Riddles, André Hansen, rdl. Anamarie Joubert en rdl. Simon Oodendal. Foto: Alex Marshall
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'