Gallery
RIVERSDAL NUUS - Die boodskap wat Kansa, asook Cars (Community Animal Rescue Services) met met 'Bark for Life' op Saterdag 21 Oktober wou tuisbring, is dat diere, maar veral honde in ons lewens vir 'n doel is - hetsy as metgesel of versorger.
Volgens Sandra Lotz, voorsitter van Cars het ons egter ook 'n verantwoordelikheid teenoor ons troeteldiere om na hulle om te sien.
Deur hulle te steriliseer, verminder jy hul kans om kanker te kry.
"Van Cars se kant af, maar ook namens Kansa wil ek 'n groot applous gee aan die gemeenskap wat die Bark for Life Relay saam met hul viervoetiges geniet het," sê sy.
"'n Groot applous aan Jurie van der Vyfer met sy skaaphond, Sussie, wat gekeer het dat die troppie skape nie die loop neem nie en hulle met 'n netjiese stukkie werk mooi in hul kamp besorg het.
"Theresa Geerdink het 'n demonstrasie met haar opgeleide Duitse herdershond gelewer.
"Sy gaan in die toekoms vir ons viervoetiges en hul eienaars opleiding kom aanbied.
Junita Kleinhans, koördineerder van Bark for Life met haar hond, Argo.
"Die gemeenskap het die hindernisbaan baie geniet. Hulle moes deur die tonnel, om hindernisse soos strooibale beweeg en ek dink die eienaars het dit meer as die honde geniet want sommige het self die hindernisse aangedurf."
Die wenner van die hondeskou wat uit verskillende kategorieë bestaan het, het 'n lekker prys ontvang.
Die wenner van die 'Fancy Dress'-kategorie is JJ Pfaff met sy Golden Retriever, Bobby.
Die 'Look alike'-kategorie is gewen deur Mianca Oosthuizen en haar Dalmation Diasy. Geerdink se hondjie het die 'Cutest Puppy' gewen en die 'Rescue'-kategorie is deur klein Stella van Marlize Helberg gewen.
Mianca en haar Dalmation, Daisy het die 'Look alike'-kategorie gewen.
"Om saam te vat was dit net 'n lekker dag vir oud en jonk. Kinders kon op die springkasteel spring en mense kon 'n oulike foto by die fotohokkie neem, pannekoek of 'n worsbroodjie eet.
"Stalletjies was daar ook, maar die belangrikste is dat die mense hul geniet het saam met hul geliefde hondekind," het Lotz afgesluit.
Die skape word mooi deur Jurie van der Vyfer se skaaphond bymekaargemaak.
ARTIKEL EN FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'