Update
STILBAAI NUUS - Fynbossentrum se alombekende opsigter, Bladsak Saayman, vier vanjaar sy 21ste herdenking in dié posisie.
Sy vriendelike en getroue diens in die sentrum het hom 'n besondere plek in die harte van sowel Stilbaaiers as gereelde vakansiegangers besorg.
Besoekers kan gewoonlik skaars glo hoe skoon die perseel en toiletgeriewe gehou word en dis alles aan Bladsak se ywer te danke.
Hy vertel dat hy aanvanklik bou- en verfwerk gedoen het, voordat hy op 38-jarige ouderdom die opsigterswerk by die Fynbossentrum gekry het. In die beginjare was daar nie sekuriteitsbeamptes nie en sy besem moes soms as tugmiddel ook diens doen.
Hy loop gedurig en inspeksie doen vir vuil kolle en reken hy vee so twee besems per jaar heeltemal kis. Sy besem en skoppie raak egter gereeld soek omdat die gewilde man met die vrolike lag dikwels poetse gebak word.
Bladsak se naam is eintlik Solomon, maar dan weet g'n mens van wie gepraat word nie. Hy vertel dat sy bynaam van kleintyd af kom. Hy kon nie altyd byhou as sy ouer broers êrens heen gegaan het nie en dan moes een van hulle hom 'soos 'n bladsakkie' op die rug dra.
Bladsak het 'n ernstige kant ook en deel graag brokkies lewenswysheid met elkeen wat wil gesels. Hy het 'n sterk geloof en verklaar onomwonde dat dit net genade is wat hom gedra het sedert sy vrou nege maande gelede oorlede is. Sy drie dogters van onderskeidelik 35, 34 en 29 jaar oud sorg ook dat hy aan die gang bly. Hy geniet nog goeie gesondheid en beplan om opsigter te bly solank hy kan.
Lees 'n vorige artikel hier: Opsigter 21 jaar by Fynbossentrum
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'