HEIDELBERG NUUS - Werkers van die uitgebreide openbare werke program (EPWP) in die Hessequastreek is raadop omdat hulle sedert Oktober nie salarisse ontvang het nie.
Sommige is ook nie in September betaal nie.
Werkers in die streek is gefrustreerd omdat hul navrae onbeantwoord bly.
Volgens die werkers word hulle telkens versoek om hul loonstate aan die implementeringsagent, Rhanyani Ramatsea, die kontrakteur wat die program nasionaal behartig, te stuur.
“Ons loop ons elke keer net vas teen leë beloftes wat nog nie realiseer het nie,” het een van 13 van die werkers in Heidelberg gesê. “Dis mos genoeg om van gatvol te word. Hoe dink hulle moet ons kos op die tafel sit?”
“Met Kersfees voor die deur het ons niks om vir ons ouers en kinders te wys waarvoor ons ons so afgesloof het om ons dorp mooi skoon te hou nie."
Altesaam 24 werkers in Riversdal dreig om te staak na hulle ook nie betaling ontvang het nie. Hulle blameer die departement van omgewingsake, die implementeringsagent en die munisipaliteit daarvoor dat daar nie met hulle gekommunikeer word nie. Die werkers se taak is om rommel op te tel en onwettige stortingsterreine op te ruim.
“Die EPWP-idee is goed indien dit reg toegepas word, maar ons hoor nie die waarheid nie,” sê ’n ma wat sukkel om vir haar kinders kos op die tafel te sit. “Ons het hard gewerk met die hoop dat ons betaling sal ontvang. Dis sleg om in so ’n posisie te wees, veral so kort voor Kersfees, want ons is afhanklik van die geld.”
IN SHORT
A number of workers of the government’s EPWP programme has not received salaries for the past couple of months and they face a bleak Christmas. “We worked so hard to keep the towns clean but have nothing to show for it,” they lamented.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'