Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Geslaagde optog is Saterdag, 12 Desember deur Stilbaai se gemeenskapspolisieforum (GPF) deur die strate van Stilbaai aangebied.
Die buurt- en plaaswagte, in samewerking met verkeersdienste, die plaaslike polisie, munisipale wetstoepassing, brandweer, NSRI, ambulansdiens en Werk vir Vuur het in 'n konvooi met loeiende sirenes vanaf die rugbyveld oorkant die Lionsklub beweeg na Laerskool Bertie Barnard se rugbyveld.
Hier het Melkhoutfontein se trompoppies en drilpeloton, asook Werk vir Vuur se drilpeloton opgetree.
Stilbaai-polisie se stasiebevelvoerder, kapt Johan van Tonder het al die rolspelers bedank vir hulle harde werk om van Stilbaai so 'n veilige plek te maak en hou.
"Die betrokkenheid van die gemeenskap is uiters belangrik om veiligheid en sekuriteit te handhaaf," het hy gesê.
VIDEO: Nooddienste hou bewusmakings-optog
Volgens Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai GPF is dit uiters belangrik dat die stasiebevelvoerder die GPF ondersteun om hulle werk te doen en bedank sy vir Van Tonder vir sy leiding en vertroue in die GPF.
"Buurt- en plaaswagte offer hulle tyd vrywillig op om patrollies in die middernagtelike en oggendure te ry ure terwyl die gemeenskap slaap. Hierdie taak word sonder vergoeding verrig en die mense gebruik hulle eie voertuie en brandstof," het sy verduidelik.
Lede van 'n buurt- en plaaswag moet by die departement van gemeenskapveiligheid geregistreer wees en die koördineerders mag nie aan enige misdaad skuldig wees nie. "Die plaaslike polisie moet te alle tye van hulle optredes bewus wees. Hulle is ook slegs die oë en ore van die polisie."
Sy het bygevoeg dat Stilbaai se gemeenskap met reg trots wees op die harde werk van al die rolspelers. "Stilbaai is net so veilig as wat hy mooi is en inwoners en vakansiegangers kan rustig slaap met die wete dat veiligheid en sekuriteit 'n prioriteit is. Dit beteken egter nie dat Jan Publiek alles oorboord moet gooi nie. Jy is steeds vir jou eie veiligheid verantwoordelik," het sy benadruk.
Die optog onderweg na Laerskool Bertie Barnard.
Vorige artikel: Nooddienste hou bewusmakings optog
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'