Update Video
RIVERSDAL NUUS & VIDEO - Sakeondernemings in die dorp kreun onder die las van beurtkrag.
Die eienaars van die ondernemings is dit eens dat die onderbrekings tot ernstige finansiële verliese lei, al hoor 'n mens oral in die strate die gedreun van kragopwekkers.
Carl Snyman van HC Snyman Boumateriaal sê al het hulle ’n kragopwekker, veroorsaak die beurtkrag groot ontwrigting. “Klante is gewoond daaraan dat ons flink diens lewer, maar nou word hulle tyd gemors omdat die kasregisters nie behoorlik werk nie.”
Emile de Villiers van Riversdal Grassnyerdienste het ook ’n kragopwekker, maar dit het nie genoeg woema om swaar masjinerie in die werkswinkels aan te dryf nie. “Ons verloor geld, want buiten ’n verlies aan manure, raak die rekenaars onklaar en dit neem tyd om dit weer aanlyn te kry.”
Gaffie van der Merwe en Liezl Odendaal, eienaars van Green Lime-restaurant, is raadop. Veral in die aand, hul besigste tyd, kan hulle nie voorbly met kosmaak nie, al het hulle gasstowe, ’n pizza-oond wat met hout verhit word en ’n braaier buite.
“Die mense eet almal op dieselfde tyd en wil nie so lank vir hul kos wag nie. Baie van hulle bestel dan maar ’n wegneemete, maar ons verloor ten minste die helfte van ons gewone besigheid.”
Volgens Van der Merwe het die kragonderbrekings ook ’n rimpeleffek, want wanneer hy gaan voorraad aankoop, kan die verskaffers weens die beurtkrag ook nie voorraad lewer nie.
Boonop kos dit geld om die twee kragopwekkers vol brandstof te maak.
André van Wyk van Riversdal SuperSpar is ook hand in die hare. Al is daar ’n kragopwekker, is die supermark se ligte gedemp. “Die rekenaarstelsel word ondersteun deur ’n battery-aangedrewe noodkragstelsel, maar wanneer die krag saans afgaan, is daar nie genoeg tyd om die kasregisters korrek af te sluit nie.”
Die yskaste kan ook nie voldoende verkoel wanneer die krag drie maal per dag vir twee en ’n half uur op ’n keer af is nie en van die voorraad gaan onvermydelik verlore.
Die grootste probleem word in die bakkery en slaghuis ondervind. “Ons berei voor die tyd die deeg vir die gebak voor, maar dit neem twee ure om klaar te bak, en indien daar ’n onderbreking is, gaan al die deeg verlore. Dit verg fyn beplanning om alles gedoen te kry in die tyd wat die krag wel aan is. Deesdae begin ons al tienuur in die aand voorberei om al ons bestellings te kan lewer. Dit noop die werkers om lang ure en deur die nag te werk.”
Sy grootste bekommernis is die dreigende dieseltekort. “Ons gaan nog groter probleme ondervind wanneer daar nie genoeg diesel is om ons voorraad van elders af aan te ry nie.”
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Beurtkrag lê besighede lam
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'