HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het onlangs 'n klagte van 'n bekommerde sportliefhebber ontvang.
Dié netbalspeler van Albertinia het verduidelik dat die netbalbane nie in 'n goeie toestand is nie: "Na hoe lank se gesukkel het Albertinia 'n netbalbaan gekry.
"Bietjie meer as 'n jaar later is die bane in so toestand. Hier is geen toesig wat gehou word nie.
"Die ligte wat gedraai is na die baan is pal buite werking. In verlede jaar moes ons klub mooi vra dat van die wedstryde op Albertinia ook gespeel word omdat dit ons altyd 'n klomp geld kos om te ry Mosselbaai, George en Oudtshoorn toe. Hoe moet ons wedstryde aanbied in sulke haglike toestande?"
Op navraag aan Hessequa-munisipaliteit het Susan Geldenhuys, mediawoordvoerder gesê: "Die baanoppervlak van die Albertinia-netbalbaan is in die vorige boekjaar nuut oorgedoen.
"Die gronde word deurlopend in stand gehou.
"Hoewel die netbalbaan se oppervlak ontwerp is om meer as een sportsoort te akkommodeer, sal 'n skrummasjien byvoorbeeld groot skade aanrig.
"Inwoners word versoek om die regte sporttoerusting op die bane en velde wat daarvoor bedoel is, te gebruik.
"Herstelkoste wat aangegaan moet word, kon vir ander doeleindes aangewend word."
Die munisipaliteit doen 'n beroep op inwoners om enige vorm van vandalisme onder hulle aandag te bring.
"Vandalisme, plundery en diefstal by openbare munisipale gronde is 'n ernstige probleem.
"Eiendom word beskadig ten spyte van die munisipaliteit se beste pogings om velde en stadions op te gradeer en in stand te hou.
• Rapporteer vandalisme of misbruik by info@hessequa.gov.za of skakel 028 713 8000.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap Forum, Hessequa nuus'