Update
STILBAAI NUUS - As deel van die bewusmaking van Wêreldasmadag wat vanjaar op 3 Mei was, het Laerskool Bertie Barnard kragte met dr. Corli Lodder van George saamgesnoer.
Die gr. 1-, 2- en 3-klasse het 'n tekenkompetisie gehad en juffrou Annalize de Villiers het besluit om vir elke graad 'n tema te gee. Gr. 1 was oor blomme, gr. 2 moes iets met troeteldiere teken en gr. 3 iets oor in die veld stap en wat hulle laat nies.
Uit al hierdie sketse is daar drie in elke graad gekies en daaruit is 'n algehele wenner aangewys.
Wenners
- Gr. 1: Anton Bartman, Chanell du Plessis en Mischke Kotzé.
- Gr. 2: Diego Matthews, Elibellee Olivier en Juliet Punté.
- Gr. 3: Emma Pretorius, Migael van Zyl en Joshua Makhoba.
Die algehele wenner was Emma Pretorius in gr. 3.
Elkeen van hierdie leerders het 'n prys gewen wat deur verskeie borge geskenk is. Hulle het ook eetgoed vir die leerders en hulle ouers voorsien.
In haar praatjie het Lodder gesê dat asma nie genees kan word nie, maar dit kan gekontroleer en die simptome kan verlig word. Volgens haar is dit die mees algemene chroniese siekte by kinders.
"Suid-Afrika het die vyfde hoogste asmasterftesyfer in die wêreld. Een van die groot oorsake daarvan is omdat asmalyers nie vinnig genoeg by die regte fasiliteite uitkom nie," het sy gesê. "Mense aanvaar dat beperkings op fisiese aktiwiteite en probleme met asemhaling 'normaal' is."
Asma begin dikwels as 'n allergie en dit word sterk met hooikoors geassosieer.
'n Aanhoudende, benoude droë hoes kan 'n aanduiding van asma wees. Dit is 'n kroniese inflammasie soos jig, maar sonder die pyn.
"Daar is twee soorte medikasie. Die een kontroleer die inflammasie en die ander verlig die simptome, soos jou keel wat toetrek, jy nie asem kry nie en erge fluitgeluide uit die lugweë."
Sy het bygevoeg dat gewone mense, sowel as gesondheidswerkers nie altyd genoeg kennis dra om asma in toom te hou nie. "Daarom is NAEP (National Asthma Education Program) in 1989 gestig. Dit is 'n nie-winsgewende organisasie wat poog om onpartydige inligting rakende asma diagnosering en behandeling aan gesondheidswerkers en die algemene publiek oor te dra."
Die NAEP bied ook kursusse, inligtingsessies en vergaderings aan om gesondheidswerkers en die publiek ingelig te hou.
"Baie asmalyers twyfel of hulle aan sport kan deelneem. Hulle kan beslis, maar moet seker maak dat hulle die regte medikasie gebruik en hulself met die nodige kennis pantser," het sy afgesluit.
Dr. Corli Lodder en juffrou Annalize de Villiers staan weerskante van die pryswenners. Voor, van links: Diego Matthews, Anton Bartman, Elibellee Olivier, Chanel du Plessis, Juliet Puenté en Mischke Kotzé. Agter: Emma Pretorius, Migael van Zyl en Joshua Makhoba. Foto: Johan Victor
Vorige artikel: Berties leer oor asma
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'