Update
RIVERSDAL NUUS - Wat is nou meer Suid-Afrikaans as Sarie Marais, koeksisters en melktert?
"Dit is baie belangrik dat ons ons erfenis lewend hou," het Jackie White van Ou Meule die gees van die viering verwoord.
Altesaam 57 inwoners van die Droom-versorgingsoord se twee tehuise Ou Meule en Jan Lange het Vrydag 20 September 'n gesellige erfenisdagviering met heerlike eetgoed en koffie in die Droomsaal geniet.
"Dis nie jou goed, geld en skilderye nie, maar jou liefde vir jou geliefdes en ander wat jou grootste nalatenskap is," het Blanché van Wyk tydens die opening by die teksvers 1 Kor. 13:13 aangesluit. Almal het die woorde 'geloof hoop en liefde, maar die grootste hiervan is die liefde' saamgeprewel. "Dit gaan nie oor wat jy doen nie, maar hoe jy dit doen," het sy die boodskap afgesluit.
Onder klavierbegeleiding van Aloma Boonzaaier het hulle drie geestelike liedjies saamgesing voor hulle aan 'n prettige noot-vir-noot sang- en vasvraspeletjie deelgeneem het. 'Sarie Marais', 'Die kat kom weer' en 'Afrikaners is plesierig' is uit volle bors gesing. Hulle het behoorlik gewedywer om eerste die tafelnommer op te steek sodat hulle die vrae oor kultuurgoed kon beantwoord. Vrae soos: Wat is 'n ander naam vir lekker koffie? Boeretroos!
Aan die einde van die verrigtinge is die persone met die oorspronklikste en mooiste hooftooisel aangewys.
Die geleentheid is deur DA-raadslede Annemarie Joubert, Margaret Jakobs en speaker Andrew Stroebel aangebied.
"Ons reël gewoonlik 'n erfenisdagviering vir jongmense, maar het vanjaar gevoel ons wil iets spesiaal vir ons bejaardes doen," het Stroebel gesê. "Hulle is ons erfenis en ons moet hulle koester, want ons kan so baie by hule leer."
Hy het hulle herinner aan die herkoms van erfenisdag. "Die datum 24 September is in KwaZulu-Natal as Shaka-dag gevier. Na 1994 het dit Erfenisdag geword met die doel dat al die kulture van ons reënboognasie op dié dag ons gesamentlike erfenis kan vier.
"Vandag noem ons dit braaidag, maar dis ook goed, want 'n braai bring ons ook bymekaar. Julle het erfenisdag vir ons gevestig, en ons moet dit volhou."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'