Update Video
HESSEQUA NUUS - Geen ernstige ongelukke of lewensverlies het gedurende die vakansieseisoen op die N2 tussen Swellendam en Gouritsmond voorgekom nie.
Die pad tussen Riversdal en Albertinia veral was verlede jaar dikwels die toneel van grusame ongelukke wat tot lewensverlies gelei het. In teenstelling met ongelukke wat elders in die provinsie lewens geëis het, was die paaie in Hessequa rustig. Geen voorvalle van buitengewone hoë spoed of onwettige bloedalkoholvlakke is in die streek aangemeld nie.
"Verkeersbeamptes was elke 20 km langs die N2 ontplooi en die hoër sigbaarheid het beslis 'n positiewe uitwerking gehad," het Kenny Africa, Wes-Kaap verkeershoof vroeër die week aan Suid-Kaap Forum gesê. "Hul teenwoordigheid het duidelik motoriste selfs in die swaar verkeer van vakansiegangers wat met die N2 terugkeer huis toe, gewaarsku om versigtiger te bestuur."
Kyk 'n video hieronder:
Hy het self Vrydag vanaf die Suid-Kaap in die rigting van Kaapstad gereis en dit was vir hom opvallend hoe kalm motoriste bestuur het. "Baie mense het op die WhatsApp-groep daaroor kommentaar gelewer." Africa doen deurlopend op sy Weekend Traffic Update-WhatsAppgroep verslag oor verkeer in die hele Wes-Kaap.
Hy het motoriste bedank vir die bydrae wat hulle lewer om oortreders vas te trek. Talle motoriste het foto's van roekelose bestuurders wat byvoorbeeld op 'n sperstreep verbysteek aan hom gestuur.
"Ons het die registrasienommers van mense wat stupid gery het en as hulle dink hulle gaan wegkom daarmee, moet hulle weer dink."
Hy het ook foto's van motorfietsryers wat ander se lewens bedreig deur roekeloos te ry. "Hulle dink dalk ons gaan hulle nie opspoor nie omdat hulle net 'n registrasienommer aan die agterkant het, maar ons sal sorg dat hulle ook aan die pen ry."
Volgens polisiekantore van dorpe in Hessequa is ook geen gevalle van ernstige misdaad aangemeld nie. "Dit was 'n besondere stil, waarlik geseënde Kersseisoen," het sers. Ciska Badenhorst, woordvoerder vir Albertinia-polisie dit saamgevat. "Daar was nie eens probleme met inwoners wat Nuwejaarsdag klappers skiet nie!"
Lees 'n vorige artikel: Padvalke hou motoriste kalm
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'