HEIDELBERG NUUS - Die geskiedenis en vooruitgang van boerdery in die Hessequa-streek tussen 1856 en 1869 is baie nou gekoppel aan die name Barry en Nephews.
Benjamin Barry het met sy aankoms in die 18de eeu die besigheidsmoontlikhede raakgesien. Produkte was toe met groot moeite per wa en trekdiere na die naaste hawe vervoer. So 'n transportwa met produkte vir die Kaapse mark kon maklik twee weke neem om daar te kom, met nog twee weke vir die terugreis.
Die Barry en Nephews-handelshuis wat in 1855 deur Barry op die Breederivierwal gebou is het 'n totale ommekeer in die ekonomie van die streek meegebring.
In plaas van om met groot moeite Kaap, Mosselbaai of Algoa toe te ry kon die boere sommer in een oggend Port Beaufort toe ry, hul produkte verkoop en daar en dan hul geld oor die toonbank kry. Die papierwerk was ook sommer deur die Barry's gedoen. Die gekoopte goedere is daarna rivier toe karwei en op 'n stoomboot, die Kadie, gelaai. Binne twee dae is dit by die bestemmings afgelaai. Dieselfde week nog was die boot terug met bestelde goedere.
Barry en Nephews se Port Beaufort-handelshuis het die bestaansboerdery in die streek tot 'n welvarende graan-en wolboerderystreek verander. Boere in die omgewing het ryk geword. Spogplase het verrys en baie hooggeplaaste Engelse burgers het besoek kom aflê, veral om met die boot op die rivier tot by Malgas te ry.
Heidelbergdorp het groot daarby gebaat. Tussen 1855 en 1859 het drie kerke in die pasgestigte dorpie verskyn: die NG Kerk, die Independente Kerk (later Congregational Kerk) en die St. Barnabas Anglikaanse Kerk - alles te danke aan die welvaart wat Barry en Nephews se handelshuise in die streek gebring het. Dit sluit Swellendam en Overberg-dorpe in, glo die mense.
Teen 1865 was alles verby. Die Kadie het op 'n sandbank in die Breederiviermond geloop. Dit was die soveelste boot wat daar 'n graf gekry het. Die bloeitydperk het tot 'n einde gekom, maar die hoekstene vir goeie boerdery was reeds gelê. Dít dan is deel van die geskiedenis agter die swaargelaaide vragmotors wat ons deesdae deur die Hessequa-dorpe sien ry.
Die Kadie-stoomboot in aksie. Foto: Brian Porter, www.gardenroutemeander.co.za
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'