HESSEQUA NUUS - Toeriste kan hul regmaak om wêreldklas aantreklikhede en vermaak binne die Hessequa-streek te geniet.
Besoekers word met ope arms van die Breederivier in die weste, Gouritsrivier in die ooste en deur die pragtige Langeberge in die noorde, asook die beeldskone kuslyn aan die suide verwelkom.
Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir Hessequa-munisipaliteit sê die streek is meer as net 'n strandbestemming.
Dit bied wêreldklas bergfietsroetes, wandelpaaie, wynkelders, bergpasse, 4x4-roetes, kunsroetes, gholfbane, kaasproelokale, kuswegrestaurante, museums, pragtige historiese geboue, argeologiese artefakte, fynbostuin, natuurreservate, wildtuin, damme, aalwynfabrieke, die groot vyf, riviere en kindervriendelike besienswaardighede.
"Hierdie somervakansie kan jy nuwe herinneringe maak deur Hessequa te verken," het Budricks gesê.
Onder die huidige regulasies soos in die Staatskoerant aangekondig, mag vissermanne in besit van 'n geldige lisensie steeds binne Hessequa vis vang. "Ons streek is ook dié mekka vir diepseehengel en boot ekskursies en ervare skippers kan jou die beste diepsee ervaring bied."
Sy verduidelik dat die Breederivier vir avontuur-aktiwiteite bekend is, soos roeibote, stand up paddle boarding, branderplank- en windplankry, terwyl die Gouritsrivier vir visvang bekendheid verwerf het. "Hier kan die kinders ook na hartelus in die son baljaar en die koel water geniet."
Die munisipaliteit versoek alle besoekers en inwoners om al die regulasies te eerbiedig en die goue reëls te volg. "Was jou hande gereeld, handhaaf die nodige afstand en dra jou gesigmasker om die verspreiding van Covid-19 te voorkom."
Hessequa-streek maak ook vir gestremdes en blindes voorsiening. Die Tuin-op-die-Brak in Stilbaai het ‘n ruik-en-raak-roete.
Die strand is miskien taboe, maar Hessequa beskik oor verskeie staproetes langs die strand.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'