Update
SLANGRIVIER NUUS - Aslapark se 250 gesinne het Dinsdag, 7 September 'n splinternuwe speelpark in ontvangs geneem.
Die opening van die Taaibos-speelpark is amptelik deur Grant Riddles, Hessequa se burgemeester, behartig.
Die verrigtinge is deur verskeie raadslede, waaronder Speaker Andrew Stroebel, wat as programdirekteur opgetree het, wyksraadslid Gerald Boezak, onderburgemeester Johannes Hartnick, Margaret Jakobs, Tinus van den Berg, Ben Smith en Heinrich Hartnick bygewoon. André Hansen, bestuurder van spesialis-reiniging, publieke fasiliteite en geriewe, en sy span werkers was ook teenwoordig.
Nagenoeg 20 kleuters, hul ouers en ander inwoners, wat al sedert 2013 wag vir die speelpark, het die blye oomblik verwelkom.
Kinders gly na 'n beter toekoms.
Stroebel het die belang van ontspanning vir kinders benadruk en gepleit dat inwoners, veral die in die onmiddelike omgewing, sal toesien dat die park en toerusting nie gevandaliseer word nie.
Riddles het die gehoor daarop attent gemaak dat hulle as raad goed besef dat die fasiliteit nie voldoende is nie, en die versekering gegee dat daar in erns gekyk word hoe om in al die kinders se behoeftes te voorsien.
Met verwysing na die omsien van die fasiliteit, het Riddles genoem dat die munisipaliteit moet toesien dat dit in stand gehou word, maar dat dit ook die gemeenskap se plig is om die speelpark in 'n goeie toestand te hou.
"Dit is almal se verantwoordelikheid om dit op te pas, kom ons werk saam," het hy gevra. Op sy beurt het Boezak benadruk dat dit sy visie, asook die van die raad is, om 'n veilige omgewing vir kinders te skep sodat hulle kindwees ten volle kan uitleef.
Boezak en Riddles het 'n geelhoutboom geplant waartydens Hansen die voordele van 'n groen omgewing uitgewys het.
Burgemeester Grant Riddles het gewys hy kan ook met 'n graaf werk!
Van links is Heinrich Hartnick, Magaret Jakobs, Ben Smith, Gerald Boezak, Tinus van den Berg, Burgemeester Grant Riddles, Onderburgemeester Johannes Hartnick, André Hansen en Speaker Andrew Stroebel. Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: Slangrivier se kinders kan nou lekker speel
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'