Update
RIVERSDAL NUUS - Ashley-Ann Kortjie (28), wat met spina bifida en dwergisme gebore is, vertrek Maandag 27 Mei tot 3 Junie na Duitsland waar sy die New Apostolic Church se Youth Convention in Düsseldorf sal bywoon.
Sy borrel van opgewondenheid oor dié reis wat voorlê.
Dit het haar baie lank geneem om haarself te aanvaar, en in 'n stadium wou sy glad nie uit die huis gaan nie. Sy is baie kort en hoewel sy kan loop, moet sy met krukke oor die weg kom.
Sy was slegs vier jaar oud toe sy haar eerste rug- en beenoperasie ondergaan het. Die rolstoel wat sy tans gebruik is nie haar eie nie en daarom het die New Apostolic Church Motorcycle Association (NACMA) besluit om vir haar een te skenk.
"Ek sien die meeste daarna uit om die Chief Apostle van onse kerk te ontmoet. Ek is baie opgewonde oor die rolstoel, dit gaan 'n groot verskil maak. Op die oomblik is die res van die reis net raaisels in my kop," het Kortjie gesê.
Haar ouer broer, wat 'n ruk gelede oorlede is, wou altyd graag oorsee gaan. Sy vertel dat sy nou maar vir sy part sal gaan en vir hom 'n kersie sal aansteek. "Ek wou nog altyd gaan kyk hoe lyk dit aan die anderkant van die wêreld. Dit gaan vir my lekker wees om nuwe mense te ontmoet en meer van ander se kultuur en taal te leer."
Sy luister saans op haar foon hoe om Duitse woorde uit te spreek, maar sê sy sukkel nog daarmee. Hoewel sy altyd glimlag en vrolik is, maak dit haar seer wanneer mense na haar staar terwyl sy met haar krukke loop. "Ek het net een keer met my krukke dorp toe geloop en sal nooit weer nie. Die mense lag en kyk my snaaks aan."
Haar ma, Angelene Kortjie, sê sy gaan verlang en is maar bekommerd oor haar kind. "Ek gun dit vir haar en wonder nogal wat my seun sou sê, want hier gaan sy dan nou voor hom oorsee."
Kortjie bedank die NACMA, haar ma en pa Jacobus Tarentaal, Jo-Ann De Waal en haar man Anton, Melony Botha van die biblioteek, en die Man van Bo.
Lees 'n vorige artikel: Ashley-Ann rol na Duitsland
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'