GARDEN ROUTE DISTRICT NEWS - Nadat Gouritsmond in Mei vanjaar deur 'n haelstorm getref is wat erge skade aan veral eiendomme se dakke aangerig het, is die verwydering van asbes vir baie 'n kwelpunt.
Baie van die beskadigde eiendomme op die kusdorpie het asbesdakke.
Na aanleiding van beriggewing oor die storm en die veilige asbesverwydering in terme van raamwerk van die nuwe wetgewing wat in November 2020 gepromulgeer is, het inwoners van Da Nova hulle kommer oor 'n eiendom in Ryk Tulbaghstraat gedeel.
Die eiendom is geoormerk vir sloping aangesien ontwikkeling op die perseel gaan plaasvind.
Buurtwaglede het volgens inligting oor 'n tydperk sedert 2020 tydens patrolliediens waargeneem dat deure en vensters van die onbewoonde eiendom oop staan. Die eiendom is hierna, volgens 'n bron, stelselmatig gestroop. In die onlangse verlede het 'n buurtwaglid bemerk dat vensterrame uit die eiendom verwyder is.
Verdere navrae het ontstaan nadat 'n voertuig op die perseel gesien is wat die eiendom se dakplate verwyder.
"Ek ken Da Nova en die ou huise hier. Meeste van die ou dakke is nog asbes," het 'n bekommerde inwoner van die woonbuurt, wat verkies om anoniem te bly aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Die inwoner het ook berig dat die persoon wat die plate verwyder het, glo by navraag gesê het dat toestemming aan hom verleen is om die verwydering te doen en dat die dakplate glo aan 'n onbekende kerk geskenk is.
Bewusmaking nodig
By navraag deur die Advertiser het die departement van arbeid op Mosselbaai bevestig dat, ingevolge wetgewing, enige asbesverwante klagtes of aansoek vir asbesverwyderingspermitte, aan die bestuur van die departement gestuur moet word vir verwysing na die inspektoraat vir ondersoek of verwysing vir goedkeuring.
By verdere navraag het die woordvoerder vir die departement, Venessa Cupido gesê dat die saak wel ondersoek is.
"Die beampte vir beroeps-veiligheid en gesondheid van die Mosselbaai-kantoor het met die eienaar kontak gemaak.
"Ons het 'n brief vanaf die eienaar ontvang waarin hy sy probleme met vandalisme en diefstal uiteensit. Die eienaar het geen kontrakteur aangestel om die asbes te verwyder nie en het aangedui dat die dak sonder toestemming verwyder is en dat daar al vele insidente van diefstal op die perseel was. Ons inspekteur het aan die eienaar verduidelik wat die proses met die hantering van asbes is."
Cupido het verder gesê dat in die departement se ondersoek daar geen besonderhede aangaande die persoon wat die dak verwyder het, gekry kon word nie. "Die eienaar is deur die inspekteur daarvan bewus gemaak dat die plate asbes is. Hy het gevra dat die inspekteur vir hom die riglyne moet stuur."
Cupido was dit eens dat groter bewusmaking gedoen moet word aangaande die gevare van asbes en die wetlike raamwerk waarbinne dit verwyder moet word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'