TUINROETE DISTRIKSNUUS - Huiseienaars op Gouritzmond is verlede week tydens 'n gemeenskapsvergadering, sterk aangeraai om hulle sogenaamde asbesprobleem gesamentlik aan te pak.
Dié voorstel is gemaak deur kenners wat die vergadering toegespreek het, enersyds ter wille van kostebesparing, maar ook net die oog op 'n langtermynoplossing wat asbesverwydering in Suid-Afrika betref.
Die vergadering is byeengeroep deur die Gouritzmond-sambreelligaam ná 'n haelstorm vroeg in Mei vanjaar massiewe skade aan eiendomme in dié kusdorpie aangerig het.
Die vergadering op Woensdag, 2 Junie is deur versekeraars, kontrakteurs, geregistreerde asbesverwyderaars, 'n asbesinspekteur, verteenwoordigers van die Hessequa-munisipaliteit en lede van die gemeenskap bygewoon.
Org Niewoudt, plaaslike sakeman van Gouritzmond het die vergadering belê en gesê dat dit noodsaaklik is om aksie te neem as die kusdorpie, wat van vakansiegangers se besteding afhanklik is, teen Desember gereed wil wees om besoekers te ontvang.
Rudelle van der Merwe van Safenet Africa in Kaapstad was eerste aan die woord en het die ingewikkelde wetlike aspekte van asbesverwydering verduidelik. Hy het uitgestip dat oortreding van hierdie wetlike aspekte 'n kriminele oortreding is wat huiseienaars duur te staan kan kom.
Kobus Carstens van AsbesAway, het veral gepraat vanuit sy ryke ervaring nadat veldbrande eiendomme in Betty's Bay en Knysna op groot skaal verwoes het. Carstens het gesê dat van die grootste lesse geleer uit daardie rampspoedige voorvalle, die prys van verdeeldheid in gemeenskappe is. Hy het uitgebrei dat hoë koste vir die verwydering van asbes 'n noodwendige gevolg van swak samewerking kan wees.
Verder het hy die gemeenskap gemaan om die kwessie van versekeringseise te skei van 'n sogenaamde asbesprobleem, wat Gouritzmond vanweë die ouderdom van die beskadigde eiendomme, beslis het.
Hy het beklemtoon dat al die inwoners met beskadigde eiendomme, ongeag die omvang van hulle skade 'n gesamentlike asbesprobleem het. Dit het Rudelle van der Merwe onderstreep in die lig daarvan dat die jongste wetgewing 'n asbesvrye Suid-Afrika teen 2030 in die visier het.
Tydens die vergadering is 'n projekkomitee verkies. Die komitee sal ten doel hê om te verseker dat huiseienaars wat skade gely het, hulle beywer vir gesamentlike asbesvewydering, volgens 'n uitgewerkte plan, ten einde koste te help bespaar binne die raamwerk van die wetgewing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'