HEIDELBERG NUUS - Fransiena Kleynhans, een van Heidelberg se oudste inwoners het Woensdag, 3 Maart haar 98ste geboortedag herdenk.
Dié besonderse mypaal is egter die jaar as gevolg van die Covid-19-pandemie baie stil en rustig aan huis gevier.
Sy woon saam met haar dogter, Hester Kleynhans in Diepkloof.
Ant Siena, soos sy alombekend is, is 'n boorling van die plaas Kransfontein in die Stilbaai-distrik. Haar man, Phillip het haar reeds in die vroeë 80's ontval. Hul kroos het uit nege kinders bestaan, waarvan vyf dogters en een seun nog leef.
Sy het ook 26 kleinkinders, 47 agterkleinkinders, asook vier agter-agterkleinkinders. Ondanks haar rype ouderdom is sy 'n bobaasbakker en kok wat nog gereeld smullekker melkterte en koeke bak. Sy kook ook nog graag haar eie konfyt en bederf so af en toe hul gaste met van haar lekker disse.
Gepols oor haar resep vir so 'n lang en gesonde leeftyd, het sy ewe spoggerig genoem dat vroeg opstaan en harde werk verseker daartoe bydra. Laastens en seker die heel belangrikste vir dié nederige vrou is om gehoorsaam aan jou ouers, asook aan jou Heiland te wees.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'