Gallery
HEIDELERG NUUS - Die Kairos Alumni-groep op Heidelberg het besluit om die tweede myl te stap om die matrikulante te motiveer om hul beste te doen ten spyte van die onstuimige skooljaar as gevolg van die Covid-19-pandemie.
Volgens die voorsitter, Vennito van Niekerk erken hulle as alumni die vele suksesse van Kairos Senior Sekondêre Skool se uitblinkers en hou hulle dit voor as motivering vir die leerders.
Hulle het besluit om twee van die skool se grootste uitblinkers, dr Jacquin October wat onlangs sy PhD in Chemie verwerf het, sr Samantha Miggles, 'n gekwalifiseerde vroedverpleegster, maar ook vir Quinton Adams, kliniese sielkundige vir die motiveringsdialoog te nooi.
Fotogalery: Kairos Alumni-groep motiveer matrieks
Miggels het beklemtoon dat die matrieks hulle nie moet laat ontmoedig deur foute wat hulle maak nie. "Ek het nie net myself nie, maar veral my ma teleurgestel toe ek swanger geraak het en ek het gedink al my hoop op sukses is vernietig," het sy gesê.
"Ek het egter nie in sak en as gaan lê nie. Ek het my opgelig, afgestof en met die Here aan my sy deurgedruk om my studies te voltooi," het sy onder luide applous gesê.
October het die leerders aangespoor om elke geleentheid met albei hande aan te gryp.
Hy het hulle van sy drome en aspirasies as kind, maar ook van sy mislukkings as universiteitstudent vertel.
"As jy begin drome droom, aktiveer jy 'n visie. Geleenthede kom nie altyd jou kant toe nie, jy moet ook daarvoor soek." Hy het bygevoeg dat mislukking nie permanent is nie, maar eerder hoe jy jouself oplig en aanbeweeg. "Moet nooit jou vermoëns onderskat en jou drome beperk nie."
Adams het hulle aangespoor om trots op hulself, hul herkoms, familie en gemeenskap te wees. "Ek is meer as wat ek dink ek is."
Hy het gesê dat hulle nie noodwendig bestem is om 'n algemene werker te wees nie. "Sê vir jouself: Ek is bestem vir die hoogste sport in die lewe, ek kan die uitvoerende bestuurder van 'n maatskappy word. Ek kan op internasionale vlak besigheid doen."
Twee leerders, Andrew Rossouw en Hilmury Pretorius het die gaste en alumni bedank vir die motiveringsessie om hul beste te doen. "Ons waardeer dit en sal julle met 'n 100% slaagsyfer vergoed."
Die groep matrikulante het die motiveringsdialoog bygewoon. Die drie gassprekers sit agter. Foto's: Clive Pretorius
Dr Jacquin October, Vivian Prins (prinsipaal), sr Samantha Miggels en Quinton Adams.
Vorige artikel: Alumni inspireer matrieks
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'