RIVERSDAL NUUS - Vir sy familie en die gemeenskap was Fanie Joubert soos 'n sederboom; sterk, regop, reikend na bo, altyd met oopgespreide arms wat almal altyd in sy liefde omvou het.
Joubert is Sondag 20 Januarie oorlede. Hy is gebore en getoë op Riversdal.
Dit is hier waar hy sy stempel afgedruk en vir jare 'n verskil, in sy familie, gemeenskap en veral in sy werkers se lewens gemaak het.
Hy was 'n liefdevolle eggenoot, sy kinders se held, 'n boer van formaat, kind van die Here en 'n voorbeeld vir almal. Joubert het 'n sagte hart gehad en het na almal geluister en probeer raad gee.
Vir baie jare het hy 'n stuk grond aan die department van landbou beskikbaar gestel, waarop jaarlikse proewe gedoen is. Dié proewe was 'n groot sukses. Dit was natuurlik sy kennis, liefde en passie vir landbou, tesame met die hulp van sy werknemers wat daartoe gelei het. Sy passie om te verbeter was 'n groot dryfkrag.
Joubert was een van die eerste boere in Riversdal wat met die minimum bewerkingstelsel begin het. Hy was iemand wat baie fyn waargeneem het en het altyd inligting oor dit waarmee hy besig was, bymekaar gemaak, verwerk en toegepas. Hieruit blyk dit duidelik dat hy 'n man was wat nie bang was vir verandering en vooruitgang nie. Sy kennis en bevindinge het hy graag met ander gedeel.
Sy kinders sê wel dat hy baie lank gevat het om hulle op hulle vrae te antwoord. Hy het altyd gesê: "Ek kry net een geleentheid om te antwoord en dan moet dit die regte een wees."
Hy het van 'n goeie grap gehou, veral dié van sy matriekgroep wat heen en weer gestuur is. "Om te lag is natuurlike medisyne," het hy gesê.
Juis omdat hy so grapperig was, was hy 'n regte bok vir sports. Hy het graag tyd met die kleinkinders en kinders spandeer.
Joubert het na aan die natuur gelewe en wanneer sy vingers in die grond was, was hy gelukkig. Een van sy kinders het gesê dat 'n droë tak sou groei wanneer hy dit in die grond gedruk het.
Hy en sy seun, Jan Hendrik het in 2008 begin om wingerd en olyfbome aan te plant. Al 6 800 gate vir dié boompies is self deur Fanie gegrawe. Vir werk was hy nog nooit bang nie. Hierna het hy die kelder gebou om sy produkte verder te verwerk en dit ook aan die plaaslike, sowel as die uitvoermark te lewer.
Joubert word oorleef deur sy eggenote, vier kinders, vier kleinkinders en twee susters.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'