Update
RIVERSDAL NUUS - Terwyl ons tydens die Covid-19-inperkingsperiode tuis moet bly, is daar darem nog altyd die maan om na te staar.
Wim Filmalter, wat vir 'n stokperdjie teleskope bou, meen die onlangse groot volmaan op 8 April het baie vrae laat ontstaan oor wat 'n mens alles deur 'n sterreteleskoop kan sien.
"Die volmaan is nooit juis 'n gewilde voorwerp deur 'n teleskoop nie, want omtrent geen kraterdetail is sigbaar nie," vertel hy.
"Dit is eerder die ideale tyd om mooi foto's te probeer neem - nie foto's wat slegs die maan wys nie, maar eerder landskappe waarin 'n mens die relatiewe grootte van die maan met aardse voorwerpe kan vergelyk."
Dié volmaan was besonders omdat dit presies saamgeval het met die tyd wat die maan op sy elliptiese wentelbaan die naaste afstand van die aarde af is. Dit het die deursnee van die maan 14% groter gemaak as wat die deursnee by sy verste afstand is. As gevolg daarvan het die maan se oppervlakte 30% groter vertoon.
"Wanneer die maan deur sy fases beweeg, val die skadulyn van die sonsondergang elke aand op 'n ander deel van die maanoppervlak. Die besonderhede van al die kraters kan deur die loop van die maand baie mooi met 'n teleskoop bestudeer word," verduidelik hy. Die planete is ook 'n gewilde bestemming deur 'n teleskoop, veral by uitreikgeleenthede en sterre-aande wanneer hy sy kennis met ander deel. "Hier kan 'n mens byvoorbeeld Jupiter se stormwolke en Rooi Kol, asook sy vier mane bekyk. Saturnus se ringe bly ook 'n unieke belewenis."
Belangstelling
Hy het van kleins af 'n belangstelling in sterrekunde gehad. Hy het ook in teleskope, die werking daarvan en hoe 'n mens dit self kan bou begin belangstel.
"Ek het al verskeie teleskope gebou en elkeen se ontwerp was my eie, waarvoor ek al 'n paar toekennings by ScopeX, die jaarlikse uitstalling van amateurteleskope in Johannesburg gekry het," vertel hy. "Ek het onlangs weer 'n groot 13 duim teleskoop vir 'n sterrevriend voltooi. Ek restoureer ook baie ander amateurteleskope, wat weer by sterresaamtrekke uitgestal word."
Hy is sedert 2011 by die Suid-Afrikaanse Sterrewag (SAAO) in Observatory, Kaapstad betrokke. Daar het hy die restourasie van die 100 jaar oue McClean-teleskoop se koepel en hidrouliese hyservloer behartig. "Daar wag ook nog baie ander werk voor die 200-jarige herdenking van sterrekunde in Suid-Afrika, wat in Oktober gevier word."
Sterregeleenthede
Wanneer die weer dit toelaat, kyk hy tuis ook na spesiale sterre-geleenthede, soos byvoorbeeld wanneer Jupiter se mane voor die planeet verby beweeg en 'n mens die skaduwees van die mane op die planeet self kan waarneem. As hy kan, gaan kyk hy graag sterre in die Klein-Karoo, waar die nagte helderder is.
"Op 15 April vorm die sekelmaan 'n mooi driehoek met Jupiter en Saturnus. Dit kan maklik met die blote oog of 'n verkyker gesien word. Die volgende groot volmaan verskyn weer op 7 Mei."
Het hy al vreemde vlieënde voorwerpe gesien? "Ek het al baie VVV's gesien, maar met 'n bietjie dink of navraag doen het almal verander in BVV's, oftewel Bekende Vlieënde Voorwerpe met eenvoudige wetenskaplike verklarings."
Sy ander handwerk-aktiwiteit is die herstel van musiekinstrumente en daarmee saam die nuuskierigheid om dit te leer bespeel. Enigiemand wat hom al hoor boeremusiek maak het, sal weet dit bly nie net by nuuskierigheid nie.
Wim Filmalter saam met pryse wat hy by ScopeX gewen het.
Vorige artikel: Min met die maan gepla
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'