HESSEQUA NUUS - Die plaaslike AfriForum-tak het op 28 September 17 bome op Stilbaai geplant.
Dit is gedoen as deel van dié burgerregte-organisasie se jaarlikse boomplantmaand-projek.
Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant. "Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit 'n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot 'n belangrike deel van die ekostelsel of 'n noodsaaklike natuurlike hulpbron - bome is simbolies van lewe," sê Greyling.
AfriForum fokus jaarliks op 'n boomspesie wat algemeen voorkom, asook 'n skaars spesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea) terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome wat in hul omgewings aard te plant.
"Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om 'n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Hessequa onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het," meen Greyling.
Die tak bedank Chris Scheppel wat die 17 bome geskenk het. "Chris dien op ons takbestuur en is werklik 'n man wat sy omgee vir die omgewing met ywer uitleef," sê Evert Bouwer, voorsitter van die tak. Hulle moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van 'n groener toekoms.
Stuur 'n SMS na 45350 om by AfriForum aan te sluit. SMS kos R1.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'