STILBAAI NUUS - Stilbaai Toerisme het Dinsdagaand 30 Augustus hul algemene jaarvergadering by Stilbaai-gholfklub se klubhuis gehou.
Die klubhuis was gepak met Stilbaaiers wat nie net 'n lewe maak uit toerisme nie, maar ook diegene vir wie toerisme en Stilbaai na aan die hart lê.
Hessequa-munisipaliteit is verteenwoordig deur sy onderburgermeester, Tinus van den Berg, en raadslede Rennee Davids en Ben Smith asook die munisipale bestuurder, Albert de Klerk.
In sy voorsittersverslag het Dries de Beer, uittredende voorsitter van Stilbaai Toerisme, 'n terugblik gegee op die jaar se werksaamhede en die talle suksesse.
Hy het begin deur te sê: "Die wil om aan te hou is dikwels die verskil tussen 'n mislukking en sukses." Nou, ná vyf jaar by Stilbaai Toerisme, kan hy getuig dat dit baie waar is.
Sedert die munisipaliteit hul subsidies aan toerismeburo's in Hessequa onttrek het, het almal behalwe Stilbaai s'n hul deure gesluit. Stilbaai-kantoor het staande gebly deur die storm dansky 'n betrokke gemeenskap wat hulle ondersteun het deur lidmaatskap asook vrywilligers wat hul deel kom doen het om seker te maak die deure bly oop.
In 2017 het dit moeilik gegaan. "Die opgehoopte fondse was besig om uit te loop, maar die wil om aan te hou het op die einde die verskil gebring tussen 'n mislukking en sukses," het De Beer gesê.
Stilbaai Toerismeburo vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar en die groot sukses van die buro word weerspieël deur die feit dat dit die eerste buro in die Wes-Kaap was wat 'n akkreditasiesertifikaat ontvang het.
Die harde werk wat die bestuur en kantoorpersoneel insit het die Stilbaai Toerismeburo die laaste paar jaar laat groei tot een van die suksesvolste buro's in die land. Hulle het die jaar afgesluit met 250 lede, 23 meer as verlede jaar.
Die verslapping en afskaffing van Covid-regulasies het 218 buitelandse en 7125 plaaslike besoekers na die Toerismeburo gelok. Piet Paling en sy mak palings was weer eens die groot aantrekkingskrag juis omdat besoekers toegelaat word om hulle te voer.
Stilbaai Toerisme, in samewerking met die Stilbaai Sakekamer, het met 'n selfie-roete begin. Dit is gestig vir onvergeetlike foto-ervarings in Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein. Daar is verskillende punte geïdentifiseer wat sal deel vorm van die roete en die eerste selfiepunt is geopen by die bootjie by die afdraai na Stilbaai.
Die buiteluggimnasium by Lappiesbaai is opgerig danksy die ruim bydraes deur borge en sal veral in die Desember-vakansie swaar verkeer dra.
Heelwat ander projekte en geleenthede, te veel om op te noem, is deur Stilbaai Toerisme aangepak en dit is duidelik waarom hierdie toerismeburo net van krag tot krag gaan.
Albert de Klerk, munisipale bestuurder, het gesê dat hulle graag 'n omgewing wil skep vir toerisme om te floreer in Hessequa en Stilbaai. Hy het die nuwe bestuur aangemoedig om voort te bou op Dries de Beer en die vorige bestuur se sukses. "As almal hande vat, sal ons van krag tot krag gaan," het hy afgesluit.
Stilbaai Toerisme het sy nuwe bestuur aangewys. Van links: Elmarie Smit, Mariaan Olivier, Naas Olivier, Mariaan Harris (kantoorbestuurder), Claudia Jacobs (toerisme-kantoor), Annerise Wolmarans, Marco Olivier, Derek Odendaal, Laetitia Loots, Debbie Deetlefs. Afwesig: Riaan Moag en Louise Gerryts. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'